God se Woord in vandag se woorde

Jesus, die grootste


Ek sukkel lank om regtig te verstaan wat die hele vers 9 beteken. Die eerste gedeelte is eenvoudig, maar wat beteken dit tweede gedeelte? Kom ek probeer my eie vertaling van die teks. Dalk word dit dan meer verstaanbaar.

U, o Jesus, was nog altyd mal oor dit wat reg is en die verkeerde goeters gee U ’n kol op U maag. Daarom het ons grote God, U Pa, U self gesalf met olie. Dit het die vreugdevure hoog laat brand. U is aangestel vêr bo enige ander wat saam met U werk.

Onthou, hoofstuk 1 van Hebreërs stel Jesus aan sy lesers voor. Al die eienskappe van Jesus word een vir een opgenoem. Hier leer ons Jesus ken as die Here van geregtigheid. Hy staan vir dit wat reg is en dis hoe ons Hom geleer ken het in die stofstrate van die wêreld.

Hy het net die regte dinge gedoen. Hy het mense gesond gemaak. Hy het mense wat op pad was na die Ewige Verderf, gehelp om om te draai en op die regte pad te klim. Hy het God vir ons kom wys. Hy het liefde kom wys en natuurlik het Hy nooit gesondig nie.

Ons leer egter ook baie meer hier van Jesus. Jesus is deur God self gesalf in ’n posisie vêr bo enige ander van die wat saam met Hom werk. Hy is hoër as Sy volgelinge aangestel. Selfs hoër as enige priester, profeet of koning.

Daar is niemand groter as Jesus nie. Daar is niemand bo Hom nie. Soos die Engelsman sê: “The buck stops here.”.  En op ’n manier is dit eintlik ou nuus, want die Psalms het dit lankal uitgebasuin. Kyk hoe mooi bevestig Psalm 97 hierdie vers:

1Die Here regeer! Sy skepping moet oorloop van blydskap. Van hier tot in die laaste hoekie van die wêreld moet hierdie blydskap weerklink.

2Waar die Here is, is daar nie plek vir oneerlikheid nie. Wat Hy doen, is altyd reg en goed.

5As die Here, wat oor hierdie wêreld heers, verskyn, smelt berge weg soos botter in die warm son.

6Uit die hemel kom die boodskap dat wat die Here doen, reg is, en dat almal en alles sal sien hoe groot en belangrik Hy is.

8Elkeen wat aan die Here behoort, juig uitbundig oor die goeie nuus dat U in hierdie wêreld laat gebeur wat reg is, o Here.

9Niemand is groter as U nie. Geen afgod kan u plek vat nie.

10As jy vir die Here lief is, hardloop dan weg van alles waarvan Hy nie hou nie. Hy sal jou oppas en beskerm teen enigiemand wat jou wil seermaak.

11As jy Hom gelukkig maak, sal sy geluk jou soos lig omvou. As jy aan Hom behoort, sal jou hart van vreugde oorloop.

12Laat God se kinders van geluk oorloop omdat hulle aan die Here behoort. Prys en dank die Here vir wie Hy is.

Sjoe!

Jesus, ons Heer, U is almagtig en U is in beheer. Laat ons braaivure hoog brand en laat ons feesvier, want ons is kinders van die almagtige Jesus.

Teks
Hebreërs 1:5-14

Om oor na te dink
Wat doen Jesus se grootheid aan jou?
Hoe kan ander Jesus se grootheid in jou sien?
Vir wie kan jy vandag vertel hoe groot Jesus eintlik is?

Gebed
Jesus, U is die grote God. God die Vader het U aangestel en ’n ereplek gegee bo al die ander grotes. En U het my lief? U ken my by die naam? Ek voel so geëerd dat U my as U kind lief het. My vreugdebekers loop oor! Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek