Jesus doen alles
God het met Abraham ’n verbond aangegaan. Hy sou vir hom ’n God wees. Hy sou ’n nageslag hê wat soveel soos die sterre in die lug is. Om die verbond wat God met die mens gemaak het te laat voortleef, het God besluit dat elke seun wat gebore word, besny moes word. Met elke besnydenisgeleentheid is die verbond of verbintenis tussen God en die mens geheilig, gevier en weer vars in die mens se geheue opgeroep.
Toe kom Jesus en gooi die appelkar om. Die besnydenis is nie meer nodig nie. Jesus se dood aan die kruis en die uitstorting van die Heilige Gees maak die besnydenis oorbodig. Daar is nou ’n nuwe kontrak of verbintenis van God se kant af. Hierin het die mens geen aandeel nie. Daar is nie meer ’n teken van die mens nodig om die verbintenis te heilig nie. Nee, wat Jesus gedoen het, is genoeg.
3… Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het.
Ek weet nie hoekom dit vir ons so moeilik is om te verstaan nie. Dalk is dit omdat dit vir ons te maklik klink. Te goedkoop. Seker omdat ons uit ’n bedeling kom waar jy moet werk vir iets. As jy nie vir iets gewerk het nie, kan jy niks kry nie. Klaar.
Wanneer dit egter by God en Jesus se dinge kom, werk dit anders. Hier kry ons als uit genade. By God kry ons sonder om te verdien. Inteendeel – ons verdien eintlik om weggegooi te word. Ons verdien om straf te ontvang vir ons dade. Maar as God beweeg, gebeur dinge anders.
Ons hoef niks te doen om ons verlossing te bewerkstellig nie. Jesus het alles reeds vir ons, namens ons, in ons plek gedoen.
Ons hoef ons nie te laat besny nie. Hy het mos aan die kruis gesê: Alles is volbring. Die mens hoef nie nog iets te doen om die prentjie te voltooi nie. Nee, Jesus het klaar die prentjie ten volle geskilder. Ons moet dit net aanvaar en deel maak van ons lewe.
As iemand ooit weer na jou toe kom en jou laat sleg voel omdat jy nie iets doen of gedoen het soos wat hulle glo dit gedoen moet word nie, kan jy maar gerus die vers onthou. Jesus het alles klaar vir ons gedoen.
Wanneer ’n mens besef wat Jesus gedoen het, dat Hy ons straf gedra het en vir ons ’n plek in die hemel gereed gemaak het, word ons oorval met dankbaarheid. Soms loop daar selfs trane oor my wange as ek dink aan wat ek eintlik verdien. As ek na my dade kyk, as ek na my ongewilligheid kyk (dit wat ek eintlik vir ander moes doen, maar net te lui was), voel ek soos ’n hoender en besef ek dat ek die min wat ek kon doen om my dankbaarheid te wys, nie eens gedoen het nie.
En dan die besef dat ek te midde van my eie tekortkominge steeds nie gediskwalifiseer word nie. Nooit nie! Dis die oorvloedige genade van God. Sjoe! Wat ’n wonderlike God dien ons nie. En ek bid kliphard: Here, maak my oë oop vir plekke waar ek my dankbaarheid kan wys.
Om oor na te dink
Is God se genade genoeg?
Uiterlike tekens kan misleidend wees …
Hoe leef jy jou dankbaarheid uit?
Gebed
Here, God almagtig. Maak my oë oop vir plekke waar ek my dankbaarheid kan uitleef. Amen