God se Woord in vandag se woorde

Jesus God, Skepper


Dis vir ons mense eintlik onmoontlik om God, Jesus en die Heilige Gees as een wese te sien. Vir my is dit drie persone. God is die Vader wat die wêreld geskep het. Hy is die Hoofman oor honderd.

Jesus, sy Seun, is die een wat aarde toe gekom het om aan die kruis te hang. Hierdeur het Hy al die straf vir die mensdom se sondes kom betaal.

Die Heilige Gees het na Jesus opgevaar het hemel toe, afgekom om ons Helper te wees. Sonder Hom trek ons heeltyd skeef.

Dis in ’n paar sinne hoe ek die Drie-eenheid beleef. Maar die prentjie skiet heeltemal tekort, want dis asof Jesus eers met Sy koms na die aarde op die toneel verskyn. So ook met die Heilige Gees.

Dis God self wat die skewe prentjie van my kom regtrek: 10God sê nog ander dinge ook oor sy Seun. Hy sê: “Here, U het alles begin. U het die aarde gemaak. Met u hande het U die hemel sy vorm gegee.

Jesus het saam met God bestaan toe die wêreld nog woes en afgeleë was. Nog voor die skepping, was Jesus al daar. Toe skep Jesus die wêreld. Jesus is dus nie deel van die wêreld nie. Hy is veel groter as Sy skepping.

Jesus het eiehandig spreekwoordelik met die kruiwa met die sement geloop en die fondasie van die wêreld gegooi. Die hemele waarvan daar so baie is, dat ons daagliks nog en nog ontdek, het Hy eiehandig stukkie vir stukkie gevorm. Sjoe, hoe magtig is Hy nie.

Op ’n manier word die prentjie van Jesus al hoe helderder en groter. Jesus is God. Jesus is Skepper. Jesus is Instandhouer. Jesus is Bestuurder. Jesus is Versorger. Ja, Jesus staan aan die stuur van die wêreld en hemele. Hy weet van alles wat daar aangaan. Hy ken elke mens op die naam en elkeen van hulle roep Hy op hul naam. Hy weet selfs hoeveel hare hulle op hul kop het.

Wanneer die prentjie van die grote God Jesus begin helder raak, dan raak die menswording van Jesus net nog groter. God Jesus moes van sy troon afklim en aarde toe kom. Jesus moes as Skepper, Koning, God, in ’n mens se lyf klim om Sy liefdesdaad op aarde te kon uitvoer.

Niks of niemand anders kon die verlossende daad kom doen nie. Nie ’n hoop goeie mense (wat nêrens te vinde was of is nie), nie ’n klomp konings of profete of priesters het gekwalifiseer vir hierdie pos nie. Selfs nie al die engele wat saam in ’n koor kon staan, was goed genoeg nie.

Net God Jesus het gekwalifiseer. Net die Skepper van die aarde en die hemele was die enigste, regte wese wat al die sonde van al die mense op Sy skouers kon dra. Blikkies! Hoe groot is Jesus nie. Aan U o Here God, kom al die eer toe. Tot in alle ewigheid.

Teks
Hebreërs 1:5-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou prentjie van die Drie-eenheid?
Hoe groot is jou Jesus?
Hoe beweeg dit jou?

Gebed
Jesus, God! Hoe groot is U nie. Daar is geen ander soos U nie. Dankie dat U skep. Dankie dat U my skep. Dankie dat U groot genoeg was om mens te word en vir ons aan die kruis te sterf. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek