Jesus help nou nog
Engele is nie deur Adam en Eva se verkeerde keuse beïnvloed nie. Engele doen presies soos God wil hê hulle moet doen. Hulle doen net reg en is eintlik nie by magte om iets verkeerd te doen nie. Die duiwel het geen houvas op hulle nie.
Daarom was en is dit nie nodig dat Jesus hulle uit die moeilikheid moet kom red nie. Hulle is nie in die moeilikheid nie. Maar vir die mens is dit ’n perd van ’n ander kleur. Ons was so diep in die moeilikheid, dat geen salf aan ons saligheid gesmeer kon word nie.
16Ons weet goed dat Hy nie al die moeite gedoen het om die hemelse wesens te kom help nie. Hy het dit gedoen om mense te kom help.
Verder het Jesus nie as ’n engel na die aarde gekom nie, want hoe sou Hy dan regtig met die mens kon identifiseer as Hy nie regtig kon ervaar waardeur hulle gaan nie? Nee, Hy moes as mens na die mens toe kom.
Hoekom? Om ons mense te kom help, omdat Hy en God bekommerd was oor ons. Bekommerd dat ons nie die lewe sou kon maak nie. Bekommerd dat ons êrens langs die pad dalk sou handdoek ingooi en die pad byster raak.
Dit veronderstel juis dat daar tye gaan wees wat ons hulp nodig het om te oorleef. Daar gaan tye wees wat ons swaar gaan trek. Tye wat ons nie weet herwaarts of derwaarts nie.
Tye wanneer die mensdom nie antwoorde het nie. Dan gaan ons Jesus se hulp so nodig hê. Soos in die tyd van die COVID-19-virus. Ewe skielik het ons besef dat ons eintlik maar baie weerloos en broos is.
Ewe skielik kom jou bankbalans nie in die spel nie. Nog minder, in watter etniese groep jy jou bevind. Aan die begin het die jonger mense gedink hulle word van die aanslag vrygestel, totdat selfs die jonges ook bygedra het tot die tekort aan kiste.
Die hele wêreld het in hul huise weggekruip en weer na God begin roep, want hulle het besef dat hulle nie op hul eie hierdeur kan gaan nie. Uit die besef van broosheid, roep ons om hulp.
Dank Vader dat Jesus gekom het om vir die mens tot hulp te wees. Dank Vader dat Hy die Heilige Gees hier gelos het om ons elke oomblik van die dag te lei en op die pad te help.
Wanneer die moeilike tye so in ons pad kom staan en ons nie daar om kan kom nie, moet ons altyd teruggryp na die wete dat Jesus se doel om aarde toe te kom, was om ons mense te help. Ja, Sy hoofdoel was om te sterf aan die kruis sodat ons wat in Hom glo, die Ewige Lewe kan beërwe.
Tog is daar meer. Jesus het Sy Gees hier gelos om ons voortdurend, nou nog, by te staan en deur die lewe te help. Glo dit. Weet dit. Leef dit en weet dat die nuwe seisoen net om die draai is.
Teks
Hebreërs 2:14-18
Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus vandag nog vir ons help?
Hoe het Hy jou die afgelope tyd gehelp?
Waar kan Hy nog help?
Gebed
Jesus, dit is so goed om te hoor dat U vandag nog vir ons help. Ek het elke dag U hulp nodig. Ek het nodig dat U my help om tog die regte keuses te maak. Ek het nodig dat U my sal help, sodat ek ander mense ook kan help. Amen.