God se Woord in vandag se woorde

Jesus is nie in ’n hoekie vasgedruk nie


1 Korintiërs 15:1-11

(Dis weer sulke tyd van die jaar dat ons kyk of ons die bal raakslaan. Indien jy dit nog nie ingevul het nie, sal jy asb. so gaaf wees om deel te neem aan ons 2014 navorsing. Dit sal nie meer as 5 minute van jou tyd in beslag neem nie en is naamloos. Klik asb hier)

Jesus het aan die kruis gesterf vir elkeen van ons se sondes, want dit was al manier waarop Hy ons sondes kon uitvee. In plaas van ons wat die straf moes vat vir al die verkeerde dinge wat ons aanvang, het Jesus kom sê: Wag, julle hoef nie die straf te dra nie. Ek sal dit doen.

Sjoe, dis eintlik te groot om te verstaan.

Maar Hy bly nie aan die kruis hang nie. Nog minder bly Hy in ’n graf. Daarvoor is God net té groot en Jesus net te sterk om deur die dood in ’n hoekie of grot of gat vasgedruk te word. Na drie dae staan Jesus uit die dood op: 4… die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur.

Die wêreld kon nog die kruisdood van Jesus verstaan, maar die opstaan uit die dood? Dit klink net nie moontlik nie. Selfs Jesus se mense was nie vir die nuus gereed nie. Sy vriende het hom nie herken toe Hy aan hulle verskyn het nie. En dit is te verstane. Wie sou nou ooit kon dink dat iemand net so uit die dood kon opstaan.

Tomas, een van Jesus se naby manne, wou dit nog minder glo en daarom moes Hy eers sy hand in Jesus se sy druk. Die wêreld was nie voorbereid op Jesus se oorwinning oor die dood nie.

Dit het behoorlik gegons toe die nuus bekend word. Jesus het aan ’n klomp mense verskyn en die nuus het soos ’n veldbrand versprei: 5Petrus het Hom eerste gesien nadat Hy lewendig geword het en later het al twaalf sy getrouste volgelinge Hom gesien. 6Daarna het Hy aan 500 mense gelyk verskyn. Party van hulle is al dood, maar die meeste van hulle lewe nog. 7Jakobus het toe aan die beurt gekom en daarna die apostels. 8Heel laaste het Christus aan my verskyn, ek wat op heeltemal die verkeerde tyd gebore is en daarom lank op die verkeerde pad was.

Ek verstaan die vuur binne Paulus. Ek verstaan dat hy nie anders kon as om alle stoppe uit te trek om ander van Jesus te vertel nie. Dit is nie ’n bogstorie nie. As jy eers die opgestane Jesus in lewende lywe gesien het, kan jy nie anders as om die hele wêreld aan die brand te praat nie. Dan raak teologie minder belangrik en jy wil net die verlossingsboodskap uitkry. Dan is die vleis wat jy eet en die wette wat jy moet volg nie meer die middelpunt van jou prentjie nie. Nee, net die opgestane Here is. My God is so groot, so sterk en so magtig, daar is niks wat my God nie kan doen. Nie eens die dood kan Hom vasdruk nie.

Dan gaan dit my verstand geheel en al te bowe as iemand nie wil glo nie. Kom ons haal vir Paulus, Petrus en die res van die apostels uit die prentjie, want dalk was hulle bevooroordeel. Maar Jesus verskyn ook aan 500 random mense! Deurdat dit soveel jaar gelede gebeur het, maak dit nie onwaar nie. Die geskrifte vertel ons daarvan.

Ek besef ons word ge-side track. Baie keer raak ons betrokke in gesprekke oor wat ons glo en wat ons nie glo nie. Ons stoei oor milliliters of liters water by die doop. Ons stry oor dié fees en daai fees. Ek wonder hoe gaan ons wêreld lyk as ons dié hoop energie vat en kanaliseer om die dood en opstanding van Jesus aan die wat op die verkeerde pad is, te vertel?

Ons dien ’n almagtige God. ’n God wat so lief is vir sy kinders dat Hy bereid is om sy lewe as God en koning op te offer om mens te word, sodat Hy aan ’n kruis kan kom sterf vir hulle sonde. ’n God wat nie deur die dood in ’n hoek vasgedruk kon word nie. Hieroor kan ek nie stilbly nie. Die nuus moet uit! Laat ons dit saam die wêreld indra.

Om oor na te dink

Glo jy dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf het?

Glo jy dat Jesus die dood oorwin het?

Aan wie moet jy dit vertel?

Gebed

O, Vader, hoe groot is U liefde vir ons! Hoe groot is U nie om U liefde vir ons aan die kruis te kom wys nie. Dankie daarvoor! Dankie dat ons kan weet en glo dat U so magtig is dat selfs die dood nie vir U in ’n hoekie of grot of gat kon vasdruk nie. Ek loof U naam! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek