God se Woord in vandag se woorde

Jesus, nog steeds die grootste


Die skrywer van Hebreërs dryf die punt tot in die ergste graad. Hy wil die boodskap oor en oor aan sy lesers bring: Daar is niemand soos Jesus nie. Hy is die grootste. In die ganse heelal is daar niemand soos Hy nie.

Sien jy ook vir Jesus so? Wel, na al die verskillende eienskappe waar ons die afgelope tyd stilgestaan het, kan ons beeld van Jesus nie meer dieselfde wees nie! Dit is God self wat Hom verhef tot die hoogste ereplek in die heelal.

13Luister ’n bietjie, het God ooit dít van die hemelse wesens gesê: “Sit hier op die spesiale ereplek langs My tot Ek al jou vyande magteloos voor jou laat lê”? 14Is die hemelse wesens nie eintlik maar net geeste wat God stuur om sy mense te help nie?

Hoekom sal die Een wat die hoogste plek in die wêreld het, vyande hê? Omdat die donker nie van die lig hou nie. Die duiwel hou nie van die goeie nie. Hy verlustig hom in kwaad. Hy wil breek. Hy wil liefde ’n bloedneus gee. Jesus kom steek ’n stokkie daarvoor.

Dit maak die duiwel woes kwaad en Hy wil vir Jesus uit die pad hê. Daarom dat hy sommer aan die begin van Jesus se bediening Hom in die woestyn versoek, sodat Hy in die duiwel se hoek kon kom.

Langs die pad het daar nog vyande opgedaag. Daar was konings, Sadduseërs en Fariseërs. Selfs die kerk van die dag het Hom van die tafel af probeer vee.

Maar die duiwel en sy trawante het hulle misgis met Wie hulle te doen het. Jesus is die sterkste en grootste. Selfs groter as die engele. Die wat nie vir Jesus Sy regmatige plek in die heelal gee nie, sal niks meer as Jesus se voetbankie wees nie. So min sal hulle waarde wees.

Jesus is egter ook groter as die engele. Die engele is diensknegte van God. Hulle werk vir God. Hulle ondersteun die mens en help hulle deur die lewe. Die engele verstaan die mens se behoeftes en het groot empatie vir hulle. Hulle sal alles doen om mense te help om die verlossingsboodskap te hoor en deel te maak van hulle lewe.

Engele is in diens van God en aan ons kant. Hulle is daar om ons te beskerm teen die aanvalle van die bose. As Jesus deur die duiwel aangeval is, hoekom sal ons dan nou die aanvalle vryspring? Engele word gestuur om ons te help om hierdie oorlog te wen.

God het hierdie hele weermag van engele en tog het Hy vir nie een gesê daar is ’n ereplekkie langs Hom waar Hy as Koning die heelal regeer nie. Net vir Jesus sê Hy dit. En net dit vertel ’n groot storie van Jesus, wie Hy is en hoeveel meer mag Hy het.

Laat ons daarom op ons knieë val en besef wie Jesus is. Laat ons Hom eer as God, as Verlosser. Hy is die gans andere.

Teks
Hebreërs 1:5-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou beeld van Jesus?
Gee jy Hom genoeg eer?
Hoe moet jy jou prentjie van Jesus aanpas?

Gebed
Here Jesus, hoe wonderlik gaan dit wees om eendag in die hemel voor U troon te kniel! Ek het nie eens ‘n verwysingsraamwerk van hoe om met die nodige ontsag aan ‘n koning eer te betoon nie. Wys my hoe ek nou, op aarde al, vir U na waarde kan eer. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek