Jesus sal jou nooit in die steek laat nie
Weet jy wat maak my die hoenders in? As ander my in die steek laat! Ek reël ’n klompie mense om my te kom help met die reël van ’n groot funksie. As almal hulle deel doen, is dit ligte werk. Die spreekwoord sê mos, vele hande maak ligte werk.
Om een of ander rede daag ’n klompie eenvoudig nie op nie. Hulle sê niks nie. Hulle tel nie die foon op en sê hulle is jammer of iets het voorgeval nie. Hulle stuur nie ’n WhatsApp nie. Net tjoepstil.
Die gevolg is dat dié wat wel opgedaag het, dubbeld so hard moet werk. En dit omdat ’n paar besluit het om ons in die steek te laat.
Maar miskien moet ek nie my vingers te veel na ander in-die-steeklaters wys nie, want ek laat ook maar redelik gereeld vir Jesus in die steek. Ek weet ek moet Sy hande en voete wees. Ek weet al te goed dat ek mense wat swaar deur die lewe sleep, moet help. Maar te dikwels is my prioriteite nie reg nie.
En so kan elkeen sy eie klompie voorbeelde gee van hoe dit juis óns is wat keer op keer nie opdaag vir Jesus se reëlings nie. Ons weet wat ons moet doen. Ons weet waar ons moet gee. Maar ons daag nie op nie.
Al stel ons Hom so gereeld teleur, sal Hy ons nooit in die steek laat nie. Dis nie Sy styl nie. Hoor hier: 2 Timoteus 2:13 As ons Jesus in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie … sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie.
Dankie tog!
Jy sien, dis nie deel van Jesus se mondering nie. Jesus kan nie iets doen wat Hy nie is nie of wat nie deel van Sy karakter is nie. Eintlik kan ’n mens sê dat die één ding wat Hy nie by magte is om te doen nie, is om dié wat Hy liefhet in die steek te laat.
Sien jy Jesus en God se hart hier raak? Sien jy die liefde wat net vloei en vloei en vloei? Sien jy dat al vang jy wat aan, al daag jy nie op vir jou afspraak met Jesus nie, al vergeet jy om ander te help, of al is jy eenvoudig net te lui, sal Jesus weer en weer en weer probeer.
Dit is die betekenis van genade. Eintlik moet ons die dood ontvang. Dit is waarvoor ons kwalifiseer as gevolg van ons dade, maar ons kry die teenoorgestelde.
As jy besef wat Jesus vir jou doen, kan jy mos nie anders as om ook te wil opstaan en doen nie. Dan wil ons elke keer opdaag wanneer Hy ons roep. Dan wil ons orals Sy hande en voete wees.
Jesus is ons voorbeeld. Kom ons streef dit na. Kom ons doen dit en daag elke keer op. Jesus sal ons nooit in die steek laat nie. Laat dit dan ons grafskrif wees: Hy/Sy het nooit vir Jesus in die steek gelaat nie.
Teks
2 Tim 2:8-13
Om oor na te dink
Waar daag jy nie op nie?
Wat moet jy anders doen?
Gebed
Jesus, dankie dat U altyd dieselfde is. Dankie dat U nooit U rug op my sal draai nie. Amen.