God se Woord in vandag se woorde

Jesus se bloedoortapping


Wanneer bloed uit ’n mens of dier loop, weet ’n mens dat as dit nie gestop word nie, die persoon doodgaan. Dis asof sy lewe uit hom tap. Daarom dat die Israeliete bloed gelykstaande aan lewe gesien het.

Sonde tap die lewe uit die mens. Sonde maak dood. Sonde bring verwoesting en om van die straf van die sonde ontslae te raak, moes die bloed loop. Die Bybel sê mos die straf van sonde is die dood. Klaar.

Gelukkig hoef die volk van God nie self doodgemaak te word nie. As hulle iets anders, soos ’n bees of ’n bok of ’n voël, se bloed uitgetap het, was dit vir eers genoeg om ontslae te raak van die straf vir al die sondes wat hulle gedoen het.

Maar die bloed was effe lig in die broek en die ritueel moes gedurig herhaal word. Dis asof die bloed nie genoeg krag gehad het om die hele pad enduit te stap nie en was dus nie suksesvol nie.

Daarom maak God ’n ander plan. 11Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is. 12So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak.

Jesus se bloed is koninklike bloed. Dis blou bloed. Nee, dis nog meer, dis Goddelike bloed. Soveel anders as die diere se bloed en selfs mense bloed wat te lig in die broek is.

Die Goddelike bloed is oorgenoeg en die enigste bloed wat goed genoeg is om die straf van die sonde van die hele mensdom te dra. Dis die enigste bloed wat ons sondige mense vir God aanvaarbaar kan maak.

Jesus se bloed moes uittap. Sy lewe moes uitloop. Hy moes sterf, vir jou en my, sodat ons kan lewe. Jy sien, eintlik is dit die sonde wat ons doen wat ons doodmaak, met ander woorde wat die lewe uit ons tap. Die netto-effek is die dood.

Jesus kom gee as’ t ware vir ons ’n bloedoortapping, natuurlik figuurlik gestel. Ons kan weer lewe as gevolg van Jesus se bloed wat gevloei het. Op ’n manier is dit juis hierdie bloed wat ons weer lewendig en goed in God se oë maak.

Soos ’n misdadiger, is Jesus na buite die stad geneem. Geen misdadiger is binne Jerusalem se mure gehang nie. Daar, aan ’n houtkruis moes Hy hang, sodat Sy bloed kon uittap, die uurglas van Sy lewe kon uitloop, sodat God weer na ons kan kyk.

Dan kan ons mos nie anders as om Jesus te aanbid nie. Dan kan ek mos nie anders as om Hom te volg nie. Hy gee dan lewe. Hy skenk bloed, sodat ek werklik kan lewe.

Daarom: 13Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy.

Laat ons dit maklik met die nuwe bloed doen!

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se bloed vir jou?
Wat doen dit aan jou?
Kan jy die spot verdra?

Gebed
Jesus, hoe sê ’n mens dankie vir so ’n groot daad? Hoe sê ’n mens dankie vir U bloed wat vir my sondes gevloei het? Ek wil dit uitleef! Ja, ek wil die wêreld wys wat dit vir my beteken dat Jesus se bloed my aanvaarbaar in God se oë gemaak het. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek