God se Woord in vandag se woorde

Jesus staan vir die regte dinge


Ek wonder soms wat gaan in mense se koppe aan wat op ander trap. Ek verstaan nie hoe mense dit regkry om ander net so van die aarde af te vee nie. Ek verstaan dit nog minder as kinders van die Here dit doen, want dit is so teen die aard van wie Jesus is. Navolgers van Hom moet tog probeer om so na as moontlik aan Sy spore te loop.

Maddie ervaar sulke onreg aan haar lyf:

Ons is al vir ’n paar jaar in ‘n hofstryd gewikkel teen “vriende” wat ‘n groot besigheid by ons en ander gesteel het. Hulle dra aandele, wat nie aan hulle behoort nie, en leningsrekeninge wederregtelik oor na ander maatskappye wat hulle stig. Kriminele klagtes is teen hulle gemaak. Hulle gaan net soos stoomrollers voort en gebruik ons maatskappy-geld om teen ons te veg.

My man veg moedig voort en glo dat die einde amper in sig is, maar finansieel het hulle ons en die res van die aandeelhouers geruïneer. Hulle sit elke Sondag voor in die kerk en dien op rade van vooraanstaande skole.

Dit voel party dae of die Here van ons vergeet het, maar Hy het ook wonderbaarlik vir ons gesorg vir dit wat ons nodig gehad het die afgelope meer as vier jaar.

Bid asseblief vir ‘n einde aan hierdie saak en dat God se geregtigheid sal seëvier! Ons het dit nou so nodig!

Al waarvoor Maddie vra is dat die verkeerde dinge sal end kry en dat alles weer reg sal loop. Ons kan daarvoor vra. Ons moet daarvoor vra, want dit is presies waarvoor Jesus staan. Hy staan vir gereg en geregtigheid. Hy staan vir die eerlike dinge bo die tafel. Dit wat onder die tafel gebeur, staan Hom nie aan nie. Inteendeel, Hy haat dit.

9U hou van dinge wat reg is en wil niks te doen hê met dinge wat verkeerd is nie.

Hier leer ons nog ’n eienskap van Jesus: Hy staan vir eerlikheid. Hy staan vir die waarheid. Hy stap nie snaakse paadjies nie. As Hy sê dit gaan reën, dan hoef jy nie op te kyk en te wonder waar die wolke dan is nie.

Jesus stap deur die lewe hier op aarde, sonder om een keer te sondig. Hy doen altyd net die regte ding. Dit is juis deur hierdie vlekkeloosheid dat Hy namens die hele mensdom die pak kon vat en so die straf vir ons sondes op Hom kon dra. Is dit nie ironies nie? Die Een wat niks, maar niks gesondig het nie, sterf juis aan die kruis vir ander se sondes.

Ek soek altyd maniere hoe ons ons dankbaarheid vir die groot daad van Jesus kan bewys. ’n Dankie is net te klein. Dan sê ek altyd ons moet uit dankbaarheid plekkies gaan soek waar ons ’n verskil kan maak. Dis goed so, maar hier is nóg ’n manier.

Ons kan ons dankbaarheid bewys deur in alle omstandighede reg te lewe. Dalk vang ons nie soveel strooi soos Maddie se “vriende” aan nie. Maar dalk is daar iets wat die Gees nou op jou hart druk wat jy weet van daai goeters is wat Jesus niks van hou nie. Dalk is dit tyd om nou met wortel en tak daarvan ontslae te raak.

Teks
Hebreërs 1:5-14

Om oor na te dink
Waar is daar dalk plekke waar jou paadjie nie lekker reguit loop nie?
Hoe kan jy van rigting verander?
Kan iemand jou help?

Gebed
Jesus, dankie vir die voorbeeld van geregtigheid en reg wat in alles moet geskied. Ek weet daar is plekke in my lewe waar ek nie altyd die regte keuses maak nie, nie die waarheid praat nie en soms verkeerde goeters doen. Vergewe my daarvoor en help my om ook die uitdagings te oorwin. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek