God se Woord in vandag se woorde

Jesus vat ons pak


1 Korintiërs 15:1-11

(Dis weer sulke tyd van die jaar dat ons kyk of ons die bal raakslaan. Sal jy asb. so gaaf wees om deel te neem aan ons 2014 navorsing. Dit sal nie meer as 5 minute van jou tyd in beslag neem nie en is naamloos. Klik asb hier)

Paulus het nou uit elke hoek ge-bat om die mense te help om op die pad van die evangelie te bly. Maar in die hoofstuk kom los hy die bom. Eintlik sê hy dat niks so belangrik is soos dié nie. As jy dit snap, sal die res in plek val. Barnes sien dit soos volg: If the argument in this chapter is solid, then Christianity is true; and if true, then this chapter unfolds to us the most elevated and glorious prospect which can be exhibited to dying, yet immortal man.

Hierdie is die beste nuus vir enige verlore mens. As jy die ene vang en as jy met jou hele hart hieraan kan vashou en daarin glo, is jou pad ge-pave. 3… Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur.

Dit is die kern van die boodskap van die evangelie. As iemand ooit vir jou vra om dit waarin jy glo te verduidelik, dan is dit dít. Jesus het as straf vir my sondes gesterf. Hy het in my plek gesterf, SODAT EK NIE GESTRAF MOET WORD NIE.

Ek kyk ’n aangrypende kort fliek van ’n man wat op ’n elektriese stoel sit. Almal wag dat die knoppie gedruk word. Skielik is daar ’n geraas en rumoer voor die deur. Die man in beheer los die knoppie en gaan vind uit wat aangaan. By die deur bars ’n pa binne met sy seun aan die hand. Liefdevol staar die pa na die man op die stoel. Stadig maak hy die draaitjies een vir een los en help die man uit die stoel.

Dan kom staan sy seun voor hom. Saam gaan hulle na die stoel, waar die jong seun sy sit neem. Die pa sit die draaitjies een vir een terug, terwyl hulle trane een vir een drup…

Ek wonder hoe die veroordeelde gevoel het toe sy verlossing by die deur ingestap het? Ek wonder hoe het hy gevoel toe hy die pa en die seun dopgehou het? Ek wonder of sy lewe verander het toe hy weer deur die deur na buite stap?

Dit is wat God vir ons deur Jesus gedoen het. Hy het toegelaat dat Jesus aan ’n kruis sterf, sodat ons nie hoef pak te vat vir al die sondes wat ons aangevang het nie. Hierdie is die opsomming waarin ons glo. Dit is al wat ons moet onthou, net dit: Jesus het ons pak gevat.

Glo dit! Leef dit! Vertel! Wys dit! Doen dit!

Om oor na te dink

Glo jy dat Jesus jou pak gevat het?

Weet ander dat jy dit glo?

Hoe beïnvloed dit jou gedrag?

Gebed

Here, Here, Here. Hoe groot is die daad wat U gedoen het? Om in my plek te sterf, sodat ek nie hoef pak te vat vir al my verkeerde dade nie. Hoe kan ek dan anders as om in dankbaarheid te gaan leef en teenoor ander genadig te wees wat dit net so min soos ek verdien. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek