God se Woord in vandag se woorde

Jesus vir jou vervloek


Paulus herhaal baie van die primêre waarhede aan die mense van Galasiërs, omdat hulle so maklik hulle ore uitgeleen het aan ander mense en op die ou end ’n streep deur Jesus se kruisdood getrek het. Hulle het weer teruggeval en gesê die wet is die enigste manier wat ’n mens by God kan uitkom.

Wanneer ’n mens nét onder die wet lewe, lewe jy die heeltyd in vrees. Ek is so bang dat ek oor die grense van die wet gaan beur. Orals waar ek gaan, hang die swaard van die wet oor my, want ek weet – as ek net een millimeter oor die grens gaan trap, is dit klaar met my. Dan kom die swaard met alle mag af, ek word skuldig bevind en dit is klaarpraat met my. As jy een reël van die wet oortree, staan jy onder die straf van God: 10Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.” 

Wanneer jy glo dat jy net in die hemel kan kom as jy die wet stiptelik onderhou, vlieg genade by die deur uit. Dan gaan dit oor my en hoe goed ék die wet kan onderhou wat bepaal of ek hemel toe kan gaan of nie. Dan gaan dit alleenlik oor werke. Hoe harder ek werk, hoe beter is die kans dat ek eendag die hemel kan ingaan. 12Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. En as jy soos ek ’n gewone mens is, weet jy dat ons nie op ons eie die mas sal opkom nie. Soms strip ons te vinnig vir iemand en daar vlieg ’n woord of 10 uit wat oor al die grense van die wet spring. Dan word ons aangekla dat ons die wet oortree het en ons is weer ’n keer skuldig. En die straf van die wet is die dood.

Jesus het dit egter alles vir ons kom omdraai. Hy het die gevolge van die oortreding van die wet van ons skouers kom afhaal. Hy het dit wat ons moet doen uit ons hande kom haal en dit namens ons gedoen: 13Jesus het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.”

Die vloek, die straf, die dood wat ons verdien as gevolg van die dinge wat ons doen, het Jesus van ons skouers kom afhaal en dit op sy skouers geneem. Maar daarvoor moes Hy ’n prys betaal. Hy moes deur God vervloek word. Hy moes die vervloekte pad wat óns eintlik moes loop, omdat ons so links en regs oor die grense van die wet spring, in ons plek kom stap. Jesus moes vervloek en doodgemaak word – in ons plek.

Ek wonder of ek aldag besef wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het?

Daarom is dit belangrik dat ons sal seker maak dat ons nie weer wette begin bymekaarmaak wat ons moet volg sódat ons in die hemel toegelaat kan word nie. Niks wat ons dóén, sal ons plek in die hemel méér verseker as wat dit reeds is omdat ons glo nie. Daardie werk het Jesus reeds gedoen.

Onthou: 14… die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het.

Dit is werklik goeie nuus. Ons raak as gevolg van Jesus se dood nie net deel van die seëninge van God nie, maar ons ontvang ook die Gees van God. Hoe gelukkig kan ’n mens nou wees. Onthou net om te glo dat Jesus in ons plek ons straf gedra het. Onthou dat Hy die wet in ’n nuwe lig kom stel het en die wet se angel kom trek het.

Gaan leef nou ’n vry lewe met die Gees in jou. Gaan geniet die lewe en wys vir ander dat dit die enigste pad na ware vryheid is.

Teks

Galasiërs 3:1-14

Om oor na te dink

Is geloof genoeg?

Beleef jy die seëninge van God?

Stap jy agter die Gees aan?

Gebed

Vader, ek besef dit is so maklik om weer wette op te rig en te glo dat dit die manier is om in die hemel toegelaat te word. Ja, ek weet ons moet alles in ons vermoë doen om U wil te doen, maar ek besef ook my tekortkominge. Ek weet ek gaan faal en dit is dan wanneer ek Jesus nodig het om in my plek te sterf. Dankie, Jesus, dat U God se vloek namens my aan die kruis gedra het. Dankie vir die bonus en dit is dat die Heilige Gees in ons elkeen woon. U is ’n wonderlike God! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek