God se Woord in vandag se woorde

Jesus was self deur jou swaar


Dinge groei mos baie keer net so vanself. ’n Mens het dit nie eers beplan nie, maar as jy na ’n tydjie terugkyk, sien jy hoe die Here gesorg het. Toe ons voltyds met Kruispad bediening begin het, het ons nooit gedink dit gaan lyk soos dit vandag lyk nie. Ek vermoed dat as ons ’n kykie gehad het in hoe dit nou lyk, ons nooit die stap sou neem nie.

Kan ek net gou afdwaal, want ek dink dis ’n belangrike punt om te onderstreep. Dikwels bid ons vir iets, maar dan kry ons dit nie. Dan is ons kwaad en verstaan nie hoekom God nie ons gebed verhoor nie. Ons kan nie in die toekoms sien nie. Dalk as God ons gebed verhoor het, was dit die oorsaak van swaar of seer, of het ons dalk vir God later vergeet.

Ons moet dankbaar wees dat God nie altyd ons gebede verhoor nie. Ons moet net so dankbaar wees dat ons nie die pad kan sien wat ons vorentoe gaan loop nie, want ek vermoed ons sou dan ’n ander pad gekies het, wat ook nie die beste keuse sou wees nie. Ek wou dit maar net van my hart afkry.

In ieder geval, God het in ons bediening ’n groot gebedsbediening geskep, waar daar nie net oor die honderd intersessors is nie, maar ook ’n reaksiespan wat binne 24 uur persoonlik op gebruikers se gebedsversoeke reageer.

Dit is baie interessant om te sien waar die reaksiespanlede se paaie geloop het. Elkeen het ’n pakkie van hul eie seer. ’n Vrou wat borskanker gehad het. ’n Man wie se besigheid gevou het. ’n Ander ou wat sy vrou verneuk het. En so het elkeen ’n storie.

Wanneer iemand ’n gebedsversoek stuur, word dit toegeken aan iemand van die reaksiespan wat ’n soortgelyke ondervinding gehad het. Want mense met dieselfde seer hoor mekaar net beter. Hulle praat dieselfde taal. Die reaksielid se ervaring het hom of haar toegerus om presies te weet waardeur ander gaan en hoe om daardeur te stap.

Die skrywer van Hebreërs besef dit heel goed en sommer vir ’n tweede keer in ’n paar verse herhaal hy homself met Jesus se ervaring-storie:

17Daarom was dit nodig dat Jesus in elke opsig ’n mens moes word, net soos ons, sy broers en susters. So kan Hy regtig namens mense die diens aan God bewys wat God verwag. Hy kan die hoëpriester wees wat simpatie met mense het en wat mense se belange op sy hart dra. So kan Hy daarvoor sorg dat mense se sondes vergewe word en nie teen hulle gehou sal word nie. 18Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help.

(Lees die tekste nog ’n keer.)

Soos die reaksielede ondervinding opgedoen het en juis dit nou gebruik om ander te help, het Jesus ook ondervinding. Jesus weet van swaarkry. Hy was self daar deur. Neem joune na Hom toe. Hy weet. Hy was daar en sal jou help!

Dis nie net ’n storie nie. Dis die waarheid!

Teks
Hebreërs 2:14-18

Om oor na te dink
Hoe lyk jou swaar?
Glo jy dat Jesus verstaan?
Kan jy dit na Hom toe neem?

Gebed
Jesus, dankie vir die gemoedsrus. Dankie dat ek weet, U weet. U verstaan. Dit sal goed wees as U my sal help, want eintlik kan ek nie meer nie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek