God se Woord in vandag se woorde

Jesus weet mos


My dogter se vriend maak klaar met sy ingenieursgraad en kry ’n pos by die maatskappy wat brandweerwaens bou. Ek word eendag deur die eienaar genooi om deur die fabriek te stap.

Wat ’n indrukwekkende plek is dit nie. Hulle ontwerp en bou die meeste van die parte in die fabriek. Daar staan een massiewe wa, wat amper klaar is. Die grootste wat nog in die wêreld gebou is.

Behalwe dat die ratkas die ses groot wiele moet aandryf, word daar ook krag afgetap vir die spesiale groot pomp. Die pomp is spesiaal, want dit moet die water eers deur ’n filtrering-stelsel druk, voordat dit deur die pomp kan gaan. Dis ’n eerste vir so ’n wa.

Toe my dogter se vriend by hulle gaan werk het, was hy een van die hoogs gekwalifiseerdes daar, maar net op papier. Die ander het baie meer ondervinding gehad. Die eienaars het hom heel onder laat begin. Hy het die eerste week net op die CNC-masjien, wat parte uit ’n plaat sny, gewerk.

Aan die begin kon hy nie verstaan hoekom hy so onder moet begin nie, want dis nie waarvoor hy homself vir vier jaar op die universiteit afgesloof het nie. Dit was eers by die meganiese afdeling waar hulle die brandweerwaens aanmekaarsit, waar hy besef het waarom hy die roete moes stap.

Hy het eendag gesukkel om ’n bout in ’n beknopte plekkie in te kry. So met die gesukkel, het hy besef dat daar eintlik ’n beter en baie makliker plek is om die bout te sit. Hy het dadelik na die tekenkantoor gegaan en hulle daarop gewys om die tekeninge te verander, sodat dit volgende keer net soveel makliker kan gaan.

Uit die praktyk het hy baie lesse geleer wat die teoretiese opleiding hom nooit kon leer nie. Wanneer ’n mens dit so aan die lyf voel, is dit anders. Dan verstaan jy dit soveel meer. Wanneer hy self eendag daar aan die bokant werk, gaan hy beter kan beplan, want hy het aan sy lyf ervaar wat werk en wat werk nie.

Ek dink elke ouer wie se kind in die tou staan om ’n besigheid of ’n boerdery oor te neem, moet die eerste paar jaar eers heel onder werk. Dan sal hy of sy eendag presies weet waar alles vandaan kom en met soveel meer passie en omgee die stokke by die ouers oorneem.

Op ’n manier is dit wat God met Jesus gedoen het. Nee, dit is eintlik soveel meer, want Jesus het nie net na die aarde gekom om te kom ervaar waardeur ons gewone mense gaan nie. Hy het gekom om vir die mense met wie Hy skouer skuur, Sy lewe te gee.

5Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons …

Jesus weet presies waardeur jy nou gaan. As jy pyn en seer het en erg sleg voel, Hy weet hoe dit voel. As jy alleen en verlore voel – Hy het ook so gevoel. Enige emosie waardeur jy op die stadium gaan, Jesus weet daarvan, want Hy weet mos.

Vat jou probleme na Hom. Hy sal help. Hy weet mos …

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou uitdagings?
Dink jy Jesus weet waardeur jy gaan?
Neem jy dit na Hom toe?

Gebed
Jesus, dit is so goed om te weet dat U weet waardeur ek moet gaan. Ek kom lê dit nou weer voor U voete. U weet mos … Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek