Jou anker
Ek is sommer in trane, want dit is vir my net ongelooflik om te sien hoe die Here in my lewe werk. Dit is verstommend hoe die Here my in my alledaagse stap deur die wêreld dinge laat ervaar, sodat ek Sy woord beter kan verstaan.
Ek is in Australië saam met vier ander vriende wat van skool af saamkom. Sommige van ons ken mekaar al oor die 50 jaar. Dis ’n ongelooflike reis, nie net terug in tyd nie, maar ook wat ons alles hier aanvang. Ja, ons is soms verspot, maar soms is ons ernstig.
Die Australiese vriend neem ons op ’n week-lange toer op die Barrier Reef met ’n seiljag. Ek is uit my nate. ’n Droom wat ek nog nie eens gedroom het nie, word waar. Ek dink nie ek was al drie maal op ’n die see uit nie. Ek weet van baie dinge, maar ek verstaan nie hoe alles werk nie.
Soos ’n anker. Ons almal het so min of meer ’n idee wat ’n anker moet doen. Ons weet dit hou die boot op een plek vas. Ons weet dit is baie nodig om te keer dat die boot nie op gevaarlike plekke loop nie en nog meer.
Dis kopkennis.
Toe ek die eerste oggend opstaan, lees ek my teks vir die dag: 9Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Verstaan jy hoekom my oë woes sweet? Omdat die almagtige God, wat besig is om sonnestelsels uitmekaar te hou, ook nog tyd maak dat ek uit my alledaagse belewenisse sy Woord beter verstaan.
Dit was juis ek wat vyf minute voor ek stilgeword het, die anker losgemaak het!
Sonder die anker is dit nag. As daar nie wind in die seile blaas nie en die enjins se diesel op is, sal ons dobber en dobber totdat ons teen die rotse verpletter word.
Net so met God se Woord. As ons nie God se Woord soos ’n anker gebruik nie, sal die lewe ons ook een of ander tyd op die rotse te pletter slaan. Dit sal so dom van ons wees om te gaan slaap en vergeet dat ons die seiljag se anker moet laat sak. Êrens deur die nag sal ons wakker skrik en dan gaan dit te laat wees.
’n Boot kan nie sonder sy anker nie. ’n Christen kan nie sonder God se Woord nie.
’n Boot moet altyd sy anker gebruik. ’n Christen moet altyd die Woord van God as anker in sy lewe gebruik.
Die mense aan boort moet presies weet hoe om die boot se anker te gebruik. ’n Christen moet weet hoe om God se Woord te gebruik.
Mense op die boot moet ten alle tye die anker gebruik. Hulle kan nie een aand gaan slaap en dink dis nie nodig nie. So moet Christen ook elke dag God se Woord gebruik om te keer dat hulle nie êrens langs die pad op die rotse loop nie!
Maak God se Woord jou anker!
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Waar soek jy eerste raad as jy ‘n kwelvraag of ‘n probleem het?
Hoe sou jou lewe anders wees as jy vir ‘n maand lank nie mag Bybel lees nie?
Hoe goed ken jy God se Woord? Wat kan jy doen om dit beter te leer ken?
Gebed
Here, dankie vir U Woord! U het ons nie in die duister gelos nie, maar U Woord gegee as leiding en as anker in ‘n deurmekaar en veranderende wêreld. Help my om U Woord te verstaan. Amen.