God se Woord in vandag se woorde

Jou doel op aarde


Wonder jy ook soms hoekom jy op die aarde is? Wag jy ook op antwoorde op die vraag: Wat maak ek nou eintlik hier? Nog voor ek vroegoggend stil raak, vlieg Arrie (skuilnaam) se e-pos hier in:

Ek het vrae wat nie beantwoord word nie. Ek soek en soek en het selfs nou die dag ge-Google. Dit was vir my baie snaaks toe ek later ’n survey sien van die top soektogte op Google. My vraag was onder die top vyf! Ek besef net weer dat my vrae nie uniek is nie, maar die hele mensdom vra dit.

Ek wil eintlik net weet hoekom is ek op aarde? Hoekom het God die heelal geskep met mense in? Wat is my rol as Arrie in die mierkolonie. Daar MOET meer was as om te werk, te eet en te slaap.

Dis interessant hoe mense die vraag hanteer. Weereens weens my genetiese samestelling wil ek ’n logiese antwoord hê. Ek aanvaar nie “dit is so” nie. Ek dink oor honderde jare en met die oordra van geslag tot geslag het die werklike doel van die mensdom verlore gegaan en is ons in ’n rigting wat nie vir ons beplan was nie. Die totale skepping van die donkerste hoek in die heelal tot by die aarde is ’n wetenskaplike wonderwerk. God is so groot en almagtig dat ek nie dink ek is hier gesit om net werk toe te gaan, te eet en te slaap nie. Daar moet iets meer wees… 

Ek het net die drang om vir Arrie te skryf voor ek by my Bybel uitkom:

Ek glo dat God ons vir een doel op die aarde geplaas het en dit is om die keuse vír of téén Hom te maak. Hy het die mens gemaak met ’n wil om self keuses te maak. Hy wil natuurlik hê ons moet vir Hom kies, want Hy wil so graag vir ons elkeen saam met Hom in die hemel sien, maar hiervoor moet ons self die keuse maak.

Tog eindig dit nie alles hier nie. Ons skeppingsdoel gaan vêrder en ek vermoed ’n mens kom eers hier uit nadat jy die keuse vir God gemaak het. Jy sien Arrie, as jy verstaan wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het, kan jy mos nie anders as om deur dankbaarheid oorval te word nie. Dan begin mens al hoe meer jou oë van jouself afhaal en sien mens makliker die nood van ander raak. Dan kan ons nie anders as om ander te help nie. En so raak ons Jesus se hande en voete op aarde.

Ek vermoed dit is God se idee met die wêreld. ’n Plek waar Sy kinders mekaar help om deur die lewe te kom en uiteindelik by Hom op te daag. Jip, ons elkeen het ’n roeping. Die uitdaging is om die roeping te ontdek en dit dan juis in God se Koninkryk uit te leef. En nee, dit is nie net om ’n ou voor die bors te gryp en te sê: “Draai of Braai” nie. God het vir ons elkeen gawes gegee en dit is juis die tools wat ons het om ons roeping op aarde te laat grondvat.

Toe ek die stuur knoppie druk, maak ek my Bybel op die skerm oop en lees my teks vir die dag: 1Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees.

Dis ons doel op die aarde: Leef soos Jesus geleef het. Leef ’n lewe waar Hy jou op die skouer klop en sê: Goed gedoen mater, dís wat God beplan het vir jou lewe. Dis hoekom Hy jou hier geplaas het.

Teks

Kolossense 3:1-4

Om oor na te dink

Wat dink jy is jou doel op aarde?

Wat beteken dit in jou lewe om Jesus se hande en voete te wees?

Gebed

Here, soms is dit vir my te veel om te dink dat U my uitgekies het met ’n spesifieke doel hier op aarde. Tog weet ek dat U my hier geplaas het om ’n stukkie hemel op aarde staan te maak. Ek besef terdeë dat ek dit nie op my eie kan doen nie. Neem asseblief my hand. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek