Jou gawes – jou inpak
Paulus het nou mooi vir die ouens van Korinte vertel hoe die gawes werk. Hy het vertel dat dit eintlik soos die parte van ’n liggaam werk. Vir die liggaam van Christus om lekker te werk, moet elke part sy deel doen. As een nie sy kant bring nie, funksioneer die liggaam van Christus nie lekker nie. Daarom eindig Paulus af met ’n opdrag: 31Doen moeite met die gawes wat vir jou situasie die beste is.
As ek egter rondom my kyk, sien ek ’n klomp liggaamsdele wat nie lekker werk nie en dit is nie altyd dat Christene lui is om te werk nie. Dit is eerder dat baie nie weet wat hulle gawes is nie. En wanneer ’n mens die lys van gawes van Paulus oor en oor deurwerk, hang daar steeds ’n onsekerheid oor ’n mens.
Ek het die onderstaande materiaal van Moreletapark Gemeente gekry. Gaan stadig deur die lys. Lees veral die verduideliking tussen hakkies en kies twee of drie wat by jou pas:
· Apostelskap (nuwe bedieninge, visionering)
· Administrasie (organisasie, effektiwiteit, orde, struktuur)
· Onderskeiding (suiwerheid, duidelikheid, insig)
· Handvaardigheid (hulpmiddels, Kommunikasie)
· Bemoediging (aansporing, geloofsversterking, ywer)
· Kreatiewe kommunikasie (kreatiewe uitdrukking van die evangelie)
· Hulpvaardigheid (ondersteuning, onderbou, bemagtiging)
· Gasvryheid (vertroue, sigbare liefde)
· Geloof (koers, God se beloftes en versorging)
· Vrygewigheid (hulpbronne, versorging, aansporing)
· Evangelisasie (nuwe gelowiges, oorsteek van grense met die evangelie)
· Genesing (heelheid, God se krag, herstel van gebrokenheid)
· Wonderwerke (God se krag en almag)
· Voorbidding (voorsiening, beskerming, insig)
· Leierskap (rigting, visie, verhoudingsbou, motivering)
· Kennis (leersuiwerheid, openbaring, praktiese lering)
· Barmhartigheid (verligting van nood, “Jesus se hande”)
· Interpretasie (’n Boodskap van opbou)
· Onderrig / Lering (geloofstoepassing in die praktyk)
· Herderskap (sorg, begeleiding, gemeenskap)
· Vreemde tale (boodskap, verdieping, wysheid)
· Wysheid (duidelikheid, beplanning, insig)
· Profesie (korreksie, belydenis, waarskuwing)
’n Gawe is dit wat vir jou natuurlik kom. Dit wat vir jou lekker is om te doen. Dit wat vir jou energie gee. Dit wat jy doen sonder dat jy eksterne aanmoediging nodig het.
Al wat God van jou vra, is om jou gawe in sy Koninkryk te gebruik. Jip, dis eintlik ’n opdrag. Noudat jy weet wat jou gawes is, gaan soek plekkies om dit te gaan uitleef. As ons almal dit doen, sal die wêreld anders lyk. Dan sal die liggaam van Christus gesond wees.
Om oor na te dink
Wat gee vir jou energie?
Wat is jou gawes?
Waar kan jy dit gebruik om ’n impak te maak?
Gebed
Vader, dankie dat U vir my gawes gegee het. Ek weet ek het hulle hier en daar onder die emmer weggesteek, maar nou het dit tyd geword om hulle uit te haal, af te stof en te gebruik om ’n impak in U nuwe wêreld te maak. Neem my hand en wys my waar ek daarmee kan woel. Amen