God se Woord in vandag se woorde

Jou geestelike leier


Daar kom baie tye wat ek nie lekker die antwoorde weet op die vrae van die lewe nie. Baie keer lyk albei rigtings by die T-aansluiting presies reg en tog weet ek daar is net een wat ek moet kies.

Uit my ervaring van verkeerde keuses in die verlede maak, weet ek dat ek eerder tyd moet spandeer voor ek die keuse maak. Baie keer moet ek versterkings inkry en dit is sulke tye wanneer ek na mense gaan wat ondervinding en wysheid het om my in die regte rigting te help.

Elke persoon het leiers in hul lewe nodig, mense wat voor stap, mense wat aangestel is om ander te lei. Om die pad van die lewe op jou eie te stap, is so onnodig en besprinkel met seer en swaar.

Daarom is dit belangrik om toe te laat dat mense voor jou stap. Hulle spring egter nie agter elke bos uit en wag noodwendig vir jou om elke hoek en draai van jou lewenspad nie.

Dit is so belangrik om in te skakel by ’n geloofgemeenskap, want dis juis in hierdie veilige ruimte waar jy jouself kan wees. Dis binne die familie waar jy leiding kan ontvang.

Hierdie is sulke goeie raad: 17Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees.

Dis ’n baie groot verantwoordelikheid om ’n geestelike leier te wees, want op die ou end moet elke leier gaan verduidelik waarom hulle hul mense op sekere paaie gelei het.

Dis nie ’n maklike werk nie. Op ’n manier dink elke persoon dat hulle die baas van die plaas is en die leier kan vertel wat hy of sy moet doen. Maar eintlik is die persoon net verantwoordbaar teenoor God.

Die winde is maar hoog daar bo by die hoë bome en dis nie altyd maklik om staande te bly nie. Daarom is dit goed om te hoor dat ons dit vir hulle makliker moet maak en nie hulle bemoei met onbenullighede nie.

Tog is dit belangrik dat ons genoeg energie in ons verhouding met ons leiers sal spandeer. Wanneer ’n mens dan raad nodig het, is die pyp dik en skoon genoeg om die leiding te laat vloei.

Maak ’n punt daarvan om die lewe vir jou geestelike leiers maklik te maak. Gaan bederf hulle. Gee gereeld ’n kompliment, want dis baie keer baie alleen en hulle is ook onseker of hulle die bal raak slaan. Skep ’n atmosfeer wat hulle energie gee en dit lekker maak vir hulle om aan jou deur te klop vir ’n vinnige kuiertjie.

Die opdrag is darem nie te moeilik nie, nè?

Teks
Hebreërs 13:17

Om oor na te dink
Het jy ’n geestelike leier?
Maak jy dit vir hom of haar maklik?
Stap jy agterna?

Gebed
Vader, ek wil vandag kom intree vir die geestelike leiers. Help ons om dit vir hulle makliker te maak. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek