Jou passie vir ander
Die slim mense kon nou nog nie uitgewerk het wie presies die skrywer van Hebreërs was nie. Vir jare het die mense gedink dit is Paulus, maar die skryfstyl kan nie heeltemal aan hom toegedig word nie.
Wat ons wel weet, is dat hy ’n passie gehad het om die Evangelie daar buite by sy lesers te kry. Op sy besonderse manier help hy die nuwe Christene om met die ou manier van lewe te breek en die nuwe verloste pakkie van Jesus aan te trek en daarmee in die lewe daar buite te gaan speel.
So graag wil hy ook by hulle uitkom, dat hy hulle vra vir gebed: 19Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie.
Die liefde vir ander mense dryf hom. Die liefde vir sy God dryf hom en daarom wil hy so graag by sy lesers uitkom om hulle net nog meer te help om op die pad te kom en daar te bly.
Dis wonderlik om met mense in aanraking te kom wat geraak word deur ander wat nie op die regte pad is nie. Mense wat worstel met ander mense wat van die pad af is. Mense wat ongemaklik word, omdat hulle weet daardie mense is nie op die regte pad nie.
Ek skryf oor ’n vriend van my dogter wie se pa sterf en hoe hy berusting gekry het by God oor die groot verlies. Hierop reageer ’n leser baie kras en vloek vir God.
Op die skrywe, reageer Marlie. Sy wil weet hoe antwoord ’n mens so ’n persoon? Sy is op sosiale netwerke ook al gekonfronteer met mense wat op God vloek. Sy sê sy is sleg met woorde en soek raad, want sy weet sy moet iets sê.
Ek help haar om te probeer verstaan waar die persoon vandaan kom. Dalk lê daar ’n diep stuk seer in die persoon se verlede. Daarom moet ons altyd sensitief wees vir die plek waar die ander een is, nooit skiet-skiet die werf inkom nie en maak soos Jesus sou maak. Net liefde en geen veroordeling nie.
Wat vir my hier egter uitstaan, is nie wat haar vraag behels nie, maar dat sy die vraag vra. Soos die skrywer van Hebreërs, het sy ’n passie vir mense. Sy weet die mense is van die pad af en wil hulle so graag help.
Sy erken self dat sy nie die tools het nie. Sy het nie die woorde nie, sy weet nie wat om te sê nie, maar dit keer haar nie om uit te vind wat om te sê nie. Daar is geen obstruksie in haar pad te groot om te oorkom om te sorg dat sy ander kan help nie.
Soms raak ons blasé. Soms worry ons nie eintlik oor die klomp mense met wie ons skouers skuur wat pad-af is en niks of bitter min met God te doen wil hê nie. Ons is die mense wat hulle moet bekendstel aan die liefdevolle God.
Ja, dis nie ons werk om mense te oortuig nie, maar kom ons maak dit maklik vir die Heilige Gees om Sy werk te doen. Kom ons doen ons werk, kry weer ons passie vir ander en plant die saad. Met ’n liefdevolle woord hier en ’n mooi daadjie daar, maak ons as span dalk eendag ’n moewiese verskil.
Teks
Hebreërs 13:17-21
Om oor na te dink
Hoe lyk jou passie vir ander?
Hoe lyk jou woorde vir ander?
Hoe lyk jou lewe vir ander?
Gebed
Vader, ek weet dat ek soms met oogklappe deur die lewe loop. Vergewe my en help my om weer ’n passie te kry vir mense wat verlore is. Help my om iets te begin doen en een vir die span te vat. In Jesus se Naam, amen.