Jou prokureur staan gereed
Daar is baie programme op die televisie wat ons ’n kykie gee van hoe dit in die howe van die wêreld werk. En eintlik is daar net vier karakters. Die skuldige persoon, of ’n mens moet seker sê die beweerde skuldige persoon, want ’n persoon is mos altyd onskuldig, totdat hy skuldig bewys word.
Dan is daardie aanklaer, wat gewoonlik die staat is. Die persoon verdedig die reg en moet bewys dat die aangeklaagde regtig skuldig is. Dit is die regter wat op die ou end moet besluit of die klagtes wat teen die aangeklaagde gemaak word, dig is of nie.
En dan is daar natuurlik die prokureur. In die TV-reekse word hulle altyd so selfversekerd aan die kykers aangebied en ek dink jy het ’n uitgaande persoonlikheid nodig om ’n aangeklaagde met alles in jou vry uit die hofsale te laat uitstap, skuldig of onskuldig.
Dit is presies wat Jesus vir al Sy vriende en familie in die hofsale van die hemel doen. En eintlik staan hier een groot stuk waarheid so vas soos ’n koei: al Sy kliënte is skuldig. Elke liewe aantyging wat die aanklaer, of in Bybelse terme gestel, die wet van God, na die beskuldigdes gooi, is waar.
Met elkeen van die hofsake is dit eens, die aangeklaagdes, ons, is skuldig en daarom verdien ons die ewige vuur. Maar dan staan die prokureur, Jesus, op en stap nader aan die bank, waar die Hoofregter, God, sit.
Hy sê niks nie. Hy trek Sy skouers op en bring Sy arms so halflyf op, om amper te sê: “Ja! Dis alles waar!”. Maar dan sien die Regter die gate in die Prokureur se hande en Hy weet, die Prokureur het reeds die straf vir die skuldige aangeklaagde betaal.
Sonder om iets verder te sê, lig die Regter die hamertjie, kap op die regtersbank en sê sag: “Onskuldig!”. Almal teenwoordig klap hande, hou mekaar vas, lag en huil, want God se genade en Jesus se kruisdood was oorgenoeg.
25Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd.
Sjoe, hoe kan ons elkeen wat in Jesus glo, nie wag vir dit om te gebeur nie. Hoe wonderlik sal dit nie wees as daardie hamertjie vir jou die bank slaan en jy hoor God sê vir jou: “Onskuldig!”.
En jy hoef nie bang te wees dat jy na Jesus se aftrede as jou prokureur daar in die hofsale gaan arriveer en met ’n tweede in bevel priester of profeet tevrede moet wees nie. Jesus sal vir altyd en altyd, vir ewig daar wees om persoonlike elke vriend, elke broer en elke suster wat in Hom glo, se saak te verdedig.
Hoe gelukkig kan ons wat Hom glo, nie wees nie!
Gaan leef dan nou daar buite in die wêreld. Gaan vertel vir almal dat jy, wat een van die grootste sondaars is, ’n Prokureur het wat elke liewe saak wat Hy hanteer, wen.
Teks
Hebreërs 7:1-25
Om oor na te dink
Hoe voel jy oor jou Prokureur?
Glo jy dat Hy ook jou saak sal verdedig?
Hoe leef ’n mens nou anders?
Gebed
Jesus, dankie dat U my saak behartig. Dankie dat ek met alles in my weet dat U ook daar vir my by die hemelse hofsaal sal inwag. Dankie dat ek nou al weet wat die uitspraak gaan wees. Laat ek nou so in hierdie wêreld leef. Amen.