Jou roeping …
Paulus kon nie alles wat hy vir Timoteus wou leer in een brief neerskryf nie. Voordat hy met sy tweede brief begin, herinner Paulus eers weer vir Timoteus wie is hy wat Paulus is. In die een vers sê hy so baie.
- Ek is ’n apostel van Jesus.
- God wou dit so hê.
- Ek is deur God gestuur …
- … om Jesus se verlossende boodskap aan die wêreld bekend te maak.
Of so klink dit in Die Boodskap-vertaling:
1Ek, Paulus, het hierdie brief geskryf. Ek is deur Christus Jesus gestuur omdat God dit so wou hê. Ek moet vir almal vertel dat dié wat in Christus Jesus glo altyd saam met God sal leef. God het dit beloof.
’n Apostel is iemand met ’n direkte opdrag van Jesus om Sy boodskap te verkondig. Ek noem dit spesifiek hier waar Paulus self vertel wie hy is, sodat ons nie sy skrywes ligtelik sal opneem nie. Paulus is aangestel deur Jesus, omdat dit God se wil was. Daarom kan ek en jy nie anders as om ons ore oop te maak vir die leiding via Paulus se woorde nie. Laat ons ons harte oopstel, laat ons hoor en laat ons doen soos die Gees ons lei.
Net soos Paulus deur Jesus geroep is, het God ook vir ons elkeen ’n spesiale roeping hier op aarde. Paulus het dalk ’n ander stel gawes gekry, byvoorbeeld om te skryf, om ander te bemoedig, om die evangelie aan ’n klomp mense te verkondig, om nuwe gemeentes te stig en so meer.
Jy is ook deur God geroep om met jou pakkie gawes ’n verskil te maak. Die vraag is net of jy ook so ernstig soos Paulus is om dit wel te doen? Die vrug op die uitlewing van Paulus se roeping is duidelik sigbaar soos die een na die ander gemeente op die been kom. Daarom weer ’n vraag: Hoe lyk die vrug op die uitleef van jou gawes?
Gelukkig hoef ons dit nie op ons eie te doen nie. Want net soos Paulus deur Jesus gestuur is, is dit ook waar van al die ander kinders van God.
Jou roeping is nie sommer maar net ’n nietige of onbelangrike roeping waaraan jy nie eintlik aandag hoef te gee nie. Nee, my vriend. Hierdie is dikwels ’n saak van lewe en dood. Jou roeping het ’n hoop krag, want God, die Almagtige, het aan jou die opdrag gegee. Jy moet erns maak daarmee.
Daarom is dit van kardinale belang dat jy sal uitvind wat die roeping is wat God wil hê jy moet uitleef. Pasop! Moenie te vinnig hieroor lees nie. Maak erns hiermee, want dit is die heilige, almagtige God se begeerte vir elkeen van Sy kinders.
Voordat jy jou dalk wil begin kwel omdat jy alweer in die hek duik oor die feit dat jy nie so ’n groot verskil in die wêreld maak nie, kry ons sommer ’n stuk troos: As jy in Jesus glo, is God die hele tyd by jou. Deur dun tye. Deur dik tye. God is heeltyd by jou.
Ja, al maak ek en jy droog en al doen ons nie altyd wat van ons verwag word nie. Al weet ons nie aldag eers wat ons roeping is nie, wat nog te sê dat ons dit doen, God sal ons nooit alleen los nie! Dit is presies soos God werk: Ten spyte van ons wat loop en val, oorlaai Hy ons met Sy genade en sê: Maak nie saak wat jy doen nie, niks of niemand sal jou uit My hand kan ruk nie. Dankie tog! En dit is nie ek wat so sê nie, nee, 1… God het dit beloof.
En dan kan ek nie anders as om in die wêreld in te gaan en uit dankbaarheid my roeping te gaan uitleef nie. Kom ons vat hande vandag en gaan doen dit.
Teks
2 Timoteus 1:1-2
Om oor na te dink
Wat is jou gawes?
Wat is jou roeping?
Soek jy vrede?
Gebed
Vader, eerstens wil ek dankie sê vir ’n ou soos Paulus wat deur Jesus geroep is omdat dit U wil was. Dankie dat ons vandag nog by hom kan leer. Help my om ook soos hy gehoorsaam te wees en my roeping ten volle uit te leef. Dankie dat ek kan weet dat U deur dik en dun saam met my stap. Amen.