God se Woord in vandag se woorde

Jou roeping is nie ’n stokperdjie nie


Lewies vra ’n baie goeie vraag: Waarom is evangelisasiewerk nie die taak van ’n hele gemeente nie, maar die stokperdjie van ’n paar lidmate? As jy met so ’n vraag na gemeentes kyk, sien jy die prentjie oral afspeel. Dis maar ’n handjie vol wat die opdrag om God se verlossingsboodskap daar buite uit te kry, in alle erns doen.

En dit is eintlik so onverstaanbaar. Die boodskap verlos mense. Dit maak mense vry. Dit bring hoop in ’n hopelose wêreld. Dit gee lewe. Dit red mense van die ewige vuur. Dit bring lig in die duisternis. Nou hoekom dit gaan wegsteek onder ’n emmer?

Paulus het self ervaar hoe dit is om uit die dood uit geruk te word. Hy was op die verkeerde pad. Sy moeilikheid was heeltemal vir hom geboek. Toe stap hy in God vas. Die slag was so hard, dat hy vir ’n paar dae blind was.

Paulus ken die verkeerde kant van die lewe. Hy het geweet waar die pad se bittere einde was. Daarom waardeer hy sy redding soveel te meer en hieroor kan hy nie stilbly nie. Met alles in hom probeer hy die boodskap by die ongelowiges uitkry. Eintlik word hy gejaag deur die roeping en sal enige iets doen om dit uit te leef. Ja, al kos dit selfs sy lewe.

Paulus het die impak van die Evangelie van Jesus presies verstaan en dit het hom beweeg en gemotiveer, nee, eintlik gedruk om die boodskap in die wêreld uit te kry. Daarom vuur hy ander ook aan om dieselfde te doen:

8Wat ek nou vir jou gesê het, is die waarheid. Ek wil hê jy moet dit met groot oortuiging vir die gelowiges gaan oorvertel. Hulle moet mooi begryp wat God alles vir ons gedoen het. Dit sal hulle aanspoor om reg te leef. As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen. Hulle sal ander begin dien en op die hande dra.

Paulus sê ons moet met groot oortuiging die groot waarheid aan die wêreld bring. Die twee Afrikaanse Bybelvertalings praat van “beslis” en “met groot nadruk”. Jy sien, as jy weet wat die Waarheid aan jou doen, dan wil jy, dan kan jy nie anders as om dit vir ander te gaan vertel nie.

As jy met die antwoord sit, sal jy dit vir die ander met die vrae gee? As jy sien iemand is op pad om oor ’n afgrond te stap, sal jy hulle keer?

Dis nie maar net ’n stokperdjie vir sommige Christene nie. Dit is te ernstig. Dit is ’n stryd tussen lewe en dood. Ja, mense is op pad om hulle te pletter te val. Ons kan mos nie net toekyk hoe dit gebeur nie.

Ons almal word geroep om die Boodskap daar buite te kry. Want as ander ook besef wat Jesus vir hulle gedoen het, sal hulle mos nie anders kan as om ook die Boodskap aan die mense om hulle te bring nie.

Die Boodskap verander mense. Dit beweeg mense. Mense wil dan ewe skielik anders leef. Hulle wil leef soos God wil hê hulle moet leef. Dan word die wêreld anders en mens sien mekaar raak. Mense begin plekkies soek waar hulle ’n verskil kan maak. Mense begin goeddoen vir ander. Mense begin ander te dien en dra hulle op die hande.

Dit is die netto effek van die Boodskap. Kom ek en jy doen ons deel en kry dit daar buite, nie as ’n stokperdjie nie, maar as ’n roeping.

Teks
Tit 3:8-11

Om oor na te dink
Besef jy wat God vir jou gedoen het?
Hou jy die Waardheid vir jouself?
Hoe kan jy dit daar in jou wêreld uitkry?

Gebed
Here, ek besef dat ek te stil is oor U verlossende boodskap. Ek is soms ongemaklik en ook soms skaam om my mond oop te maak. Help my Here, om nie skaam te wees nie. Ek weet ek sit met die antwoord op almal se vrae. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek