Jou vervaldatum
Aan die begin van die jaar staan ek een oggend op, en toe ek uiteindelik my veters vas het, is ek uit asem. Jy sien, die vakansie het sy tol geëis en alles sit nou hier om my middel. Om nou by die veters uit te kom, moet ek so om my maag beur om daar onder uit te kom.
Ek besluit dat dit nie so kan aangaan nie en stap kordaat by die gim in. Dis nogal vol, want so aan die begin van ’n nuwe jaar is die mense se Nuwejaarsvoornemens vars en almal werk hard daaraan.
Ek het heel goed gevoel met die oefenry en sommer ’n paar ekstra gewigte opgetel en so. Om een of ander rede was ek die aand vroeg moeg en is ek vroeg bed toe.
O wee, die volgende oggend voel dit of iemand my op die bed vasdruk. Ek kan niks oplig nie. Met tyd skuif ek my een been uit en laat val dit oor die rand van die bed. Later die ander een. Toe moes ek omdraai en Renata wil weet of ek nou gaan kniel en bid.
Ek wou iets sê, maar beur toe orent. Dis nie lekker om in sulke kompartemente op te staan nie. Ek snork toe sy sê ek moet besef dat ons nie jonger word nie en nie sommerso kan aangaan in die gim nie.
Ek sê niks nie, want ek besef sy is reg. Ek raak ouer. En dis nogal nie lekker om dit te besef nie. Skielik besef ’n mens dat alles om ons ouer word. Die huis waarin ons bly, die klere wat ons dra, die rekenaar waarop ek tik. Alles raak ouer. Selfs die aarde raak ouer. Êrens kom daar ’n punt waar alles opgebruik is. Selfs ’n mens se liggaam het ’n vervaldatum op.
11Al hierdie dinge sal eendag vergaan en nie meer daar wees nie. Soos ’n stuk klere stukkend gaan en uiteindelik weggegooi word, so sal al dié dinge ook eendag verdwyn, maar U sal vir altyd daar wees.
Dr. Henry Morris (kliek hier) praat van ons klok wat besig is om af te wen:
Hierdie merkwaardige skrifgedeelte, antisipeer die beroemde tweede wet van die termodinamika, of die wet van die entropie, wat aandui dat alles in die fisiese heelal besig is om oud te word. God het alles in die begin geskape en dit, so te sê, soos ‘n groot klok opgewen. Weens sonde en die vloek is dit egter sedertdien besig om af te loop en te “vergaan”.
Ons vervaldatum is klaar opgeplak, maar Jesus het nie een nie. Die Skepper God, Jesus, raak nie op nie. Hy raak nie oud nie. Hy kwalifiseer nie vir ’n vervaldatum nie. Watter ongelooflike rustigheid oorval ’n mens nie hier nie? As ons ons vervaldatum bereik het, sal Jesus daar op ons wag. Niks kan met Hom gebeur nie. Hy is vir altyd daar.
Leef en woon rustig voort. Ons raak ouer en staan moeiliker op. Ons vervaldatum is klaar opgeplak. Maar gelukkig is ons Skepper presies soos Hy aan die begin was. Sy liefde vir ons sal nie verbleik nie en die dag wanneer ons ons vervaldatum hier bereik het, sal Hy met oop arms daar op ons wag.
Teks
Hebreërs 1:5-14
Om oor na te dink
Karring oudword soms aan jou?
Hoe maak jy met oudword?
Hoe beweeg Jesus, wat dieselfde bly, jou?
Gebed
Here! So dankie dat U gister, vandag en môre dieselfde bly. Dankie dat U vir ons wag en met oop arms staan. Ja, soms pla die oudword, maar ek sal daaroor kom. Amen.