Jou ware liefde word in ander gemeet
Wanneer die begrip ware liefde verduidelik moet word, het selfs die wel ter tale Paulus, baie woorde nodig om dit regtig duidelik te stel. Daarom het hy in die begin van 1 Korintiërs 13 eers begin om te sê wat dit nié is nie en nou begin hy vertel wat die liefde wél is.
4Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie. Wanneer daar vanuit die liefde geleef word, is daar nie ruimte om ander mense sleg te behandel nie. Dit is taboe om iemand met die tong ’n hou teen die oor te gee. As jy oor die muur klim, val jy nie meer binne die grense van ’n liefdevolle persoon nie.
Wat die vereiste om ’n liefdevolle persoon te wees, nog moeiliker maak, is wanneer die persoon teenoor wie ons liefdevol moet wees, nie eintlik kwalifiseer vir liefde nie. Die persoon is eintlik irriterend. Die persoon verdien nie liefde nie. Die persoon doen nie wat ons wil hê hy of sy moet doen nie. Die persoon luister nie vir ons nie. Die persoon doen sy eie ding en volg sy eie kop. Hoeveel keer het ek nie al vir die persoon verduidelik hoe dit eintlik werk nie! Met al hierdie dinge in my kop vorm ek ’n prentjie van die persoon en dan is dit vir my moeilik om my hart ook in daardie prentjie te teken.
Tog, die liefde breek grense af. Die liefde swem stroom op. Die liefde laat ’n mens anders optree as wat die gewone mense daar buite doen. Dit is juis wanneer jou lessenaar oorlaai lê van al die werk, dat die persoon vir wie jy al so baie gehelp het en wat nog steeds dieselfde probleem rondsleep, instap en tyd van jou verwag. Wanneer jy dan die hoop werk so effe opsy skuif, terugsit en met ’n sagte stem en ’n glans in die oog geduldig vra wat jy kan doen (so asof dit die eerste keer is dat jy dit doen), leef jy juis die liefde uit. Dan bars jy deur die irritasie drade en gaan sit by iemand wat smag na ’n klein stukkie liefdesbrood – net om aan die lewe te bly.
Dan verstaan ’n mens dat die liefde nie eintlik gaan oor my of die self nie, maar oor die ander persoon. Dit gaan nie oor kry nie, maar oor gee.
Tog gaan liefde nog verder: 4… om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel. In vandag se taal kan dit baie beteken. Hier is ’n paar idees om die teks in ons eie lewens te laat grondvat:
· Luister met ’n oop oor en moenie met jou eie gedagtes besig wees nie.
· Wees sensitief vir die ander een se behoefte en hoor wat die persoon eintlik agter sy woorde sê.
· Maak kwaliteit tyd vir ander, al is jou horlosie al tot oorlopens toe vol.
· Los alles waarmee jy besig is en gee tyd vir enige mens wat in jou ruimte instap, al is die deadline al verby.
· Moenie kwaad word as iemand vir die duisendste keer alweer op die nat verf trap nie.
· Moenie ou koeie uitgrawe om jou punt te onderstreep nie.
· Moenie jouself bo ander verhef en afkyk na die wat nie alles het wat jy het nie.
· Soek plekke waar jy goed kan doen.
· Al dra jy nie ’n WWJD armbandjie nie, doen steeds wat Jesus sou doen.
· Moenie jou stem verhef as jy kwaad is nie, sodat ander onder jou arm kan kom staan vir troos.
· Stap by die winkel in en koop vir die bergie ’n lekker toebroodjie.
· Wees die oase in die woestyn waar die mense wat sat gebrand is deur die harde strale van die lewe vars, koue water en rus vir hulle siel kan kry.
Kom ons wees nou maar reguit met mekaar – dis nie maklik nie. Dis nie maklik om te alle tye ’n ruimte te skep waar mense veilig en nie bang is nie. Tog moet ons alle energie insit om so te wees. Dit is tog hoe mense by Jesus gevoel het. Ons moet ook daarna strewe om ’n veilige hawe vir ander te wees.
Om oor na te dink
Waar skiet jou liefde tekort?
Watter planne moet jy maak om dit langer te maak?
Gebed
Here Jesus, ek wil so graag soos U wees. Ek wil hê ander moet U liefde ook by my ervaar. Ek wil hê mense moet altyd veilig by my voel. Ek wil hê ander mense moet goed oor hulself voel as hulle van my af wegstap. Dit sal slegs gebeur as U liefde deur my vloei. Amen