God se Woord in vandag se woorde

Just do it of spookasem


In 1988 stel Nike die hoogs suksesvolle Just do it-veldtog bekend. Met hierdie veldtog het Nike dit reggekry om alle ouderdomsgroepe, alle rasse, die wat oefen en selfs die wat nie oefen nie, aan te moedig om hul produkte te koop. En kyk maar om jou, daar kom net ’n paar skoene verby, dan merk ’n mens gou die regmerkie op.

Ek wonder wie het hierdie slagspreuk op die tafel gesit? Ek wonder of die persoon nie met Jakobus besig was nie?

As iemand my vra om Jakobus se brief op te som, sal ek dit met die drie woorde doen: Just do it! As jy sê dat jy glo, moet jy dit doen. Dit help nie jy sê jy glo, maar jou dade is nie in lyn met jou geloof nie.

Wanneer jou dade nie die storie van jou geloof vertel nie, begin daar vraagtekens agter jou geloof opstaan. Dan wonder ’n mens of jy regtig geloof het. Daarom dat Jakobus reguit is en sê dat jou geloof dan dood is.

14Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie.

Praat oor geloof beteken nie veel nie. Om in die kring te sit en lekker saam met ander te praat oor waarin jy glo en hoe wonderlik dit is om geloof te hê, maar dit word nie in jou dade weerspieël nie, beteken eintlik nie veel nie.

Inteendeel, Jakobus is so erg dat hy ons effe voor die bors gryp en ons met ’n klomp vrae peper: 14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?

Ons weet wat die antwoord op die vraag is. So ’n geloof help niks nie, want dis eintlik niks anders as spookasem nie. As jy daaraan raak, val dit uitmekaar en verdwyn dit in die niet.

Kom ons werk geloof van die ander kant af. As ’n mens goeie dade sien en die mens erken dat Hy Jesus aangeneem het, sal ’n mens uitkom by ’n geloof wat waar is. Maar as jy van die ander kant af kom en iemand sê hy glo, maar daar is nie dade nie, is dit net asem, spookasem.

Geloof wat waarde het, geloof wat waar is, geloof wat rêrig is, loop uit in dade. Dis die default. Dit is die gevolg. Geloof se resultaat, dit wat outomaties gebeur, is dat jou dade dit reflekteer.

Indien nie, bly dit spookasem en verdwyn dit in die niet en sal jy vir seker nie gered word nie.

Kom ons maak seker dat ons geloof en ons dade in lyn is. Kom ons doen ons geloof. Ja, just do it.

Teks
Jakobus 2:14-26

Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Hoe lyk jou dade?
Doen jy dit?

Gebed
Vader, ek glo in U. Ek glo Jesus is my Verlosser. Dis alles deel van my geloof. Ja en soms duik my dade in die hek en weerspieël dit nie lekker wat ek glo nie. Jammer, daaroor. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek