God se Woord in vandag se woorde

Is jy die oorsaak dat ander nie glo nie? – Romeine 14:13-23


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 14:13-23

Ons het saam met ’n klompie vriende in ’n restaurant gaan eet. Regtig lekker vleis met goeie wyn. Voorwaar ’n genotvolle ervaring. Alhoewel die vleis my so bietjie rondgejaag het, het ek vas geslaap en alles het goed verloop, totdat ek dié stuk gelees het.

5As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf. 

Daardie aand was daar iemand tussen ons wat glad nie wyn gedrink het nie. Dadelik het ek gewonder of ek dalk die persoon se gedagtes en dit waarin hy glo deurmekaar gemaak het? Was ek dalk ’n struikelblok?

Dalk is dit goed om nie alles oorboord te gooi en nou te sê ons almal moes rooi of groen koeldrank gedrink het nie. Paulus verwag nie van sy lesers om net sekere vleis te eet, omdat ander dit van hulle verwag nie.

Die groot punt hier is dat ons sensitief moet wees vir ander mense se behoeftes. As die persoon wat saam met ons gekuier het ’n alkoholis was en ons het as Christene erg woes aan die kuier gegaan, was ons duidelik nie ’n goeie voorbeeld nie. Dit is daarom belangrik dat ons sensitief sal wees om ander se behoeftes en verwagtings van ons raak te sien en positief daarop te reageer. Vra uit oor die persoon se geloof. Hoekom tree hy so op en hoekom nie? Vra jouself dan die vraag of dit wat jy nou beplan om te doen, die persoon gaan bystaan en of dit hom gaan aftrek in die sloot. Wat verwag God moet jy in daardie situasie doen? Wees sensitief vir die ander se behoeftes en die leiding van die Heilige Gees.

Dit is goed om so nou en dan dit wat jy gewoond is om te doen, so bietjie opsy te skuif ter wille van ander persone. So is dit vir ons hier in die wynstreek baie normaal om wyn saam met ’n maal te drink. Maar as dit vir jou moeilik is om dit nie te doen nie, omdat jy sensitief wil optree teenoor iemand anders, dan het jy dalk ’n probleem. ’n Mens kan mos vinnig met ’n klomp redenasies na vore kom om jouself die groen lig te gee om die kurk te trek. Pasop dat jy nie ander laat struikel nie.

Dit gaan natuurlik nie net oor wyn of vleis nie. Alles wat ons doen,

die manier wat ons praat,

die tipe woorde wat ons gebruik,

die plekke wat ons besoek,

die wyse waarop ons optree as ons te na gekom is,

die manier waarop ons ons geld spandeer

en, en en …

moet op so ’n manier gedoen word dat ons nie ander mense sal laat sê: “Ja, nee. Hoor nou weer hoe praat daardie een, maar hy sê hy is ’n Christen! As húlle dit so doen, kan ek ook mos maar aangaan op my ou manier.”

Dis nie maklik om te alle tye ’n voorbeeld te stel nie.

Om oor na te dink

Laat jou optrede of woorde soms ander mense ongemaklik voel?

Wanneer gebeur dit?

Wat moet jy doen om nie ’n struikelblok vir ander te wees nie?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek