God se Woord in vandag se woorde

Jy en jou skuld


God is ’n doen God. God is God wat Sy Woord hou. As Hy besluit het Hy doen ’n ding, trek Hy nie halfpad kop uit nie. As Hy besef hoe groot die daad is en wat dit van Hom gaan vat, bedink Hy Homself nie en draai teen Sy woord om nie.

Jesus is ook so.

Jesus het presies geweet wat Hy op aarde moes kom doen. Hy het geweet Hy moes vir ’n hoop sondaars kom sterf aan ’n kruis. Hy wou dit doen. Eintlik het die liefde vir Sy broers en susters so oorgeloop dat Hy dit wou doen. En Hy het deurgedruk.

Selfs toe Hy daar aan die kruis gehang het en baie swaar gekry het, het Hy nie omgeswaai en gesê dis te erg, dis te veel nie. Toe Hy in pyn aan die spykers gehang het en dit vir Hom gevoel het almal het Hom verlaat, selfs Sy Vader, het Hy nie Sy hand op die mat geslaan, soos stoeiers doen, om oor te gee nie. Nee, Hy het voort gebeur en deur die helse donkerte geworstel. Sodat ek en jy vry kan wees.

Jesus is ’n doen God. Jesus praat nie net nie. Jesus belowe nie net nie. Nee, Jesus doen, al kos dit Sy lewe.

Vir ’n klomp sondaars soos ons is dit die beste nuus ooit!

14Christus het Sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde.

Wow!

Dit laat dink my nou aan die storie van ’n man wie se kop erg geraas het. Hy was finansieel baie sterk. ’n Groot florerende besigheid gehad. Maar hoe meer geld ingekom het, hoe meer het hy spandeer. Later was hy omtrent elke aand in die casino.

Alles het vrylik geloop, veral die geld. Hy was almal se pel. Tog te lekker.

Tot op ’n dag wat sy besigheid in ’n donker seisoen ingegaan het. Hy het egter aand vir aand tussen sy “vriende” by die casino gedobbel. Hy het hom niks gesteur aan sy geld wat op was nie en orals geleen.

Totdat die eerste skuldeiser by sy voordeur opdaag. Toe is dit te laat. Hy het miljoene der miljoene geskuld. Die tronk was sy voorland en betaling en straf vir sy dom en verkeerde lewe.

En soos die skuldeisers sulke lang rye voor sy deur staan, kom daar ’n jong man met ’n eenvoudige karretjie aangery. By die voordeur slaan hy ’n tafeltjie op en trek ’n stoel nader. Hy vra die eerste skuldeiser wat die bedrag is wat die man skuld. Dit was ’n bedrag van ses nulle.

Die man by die tafel trek sy tablet uit. Vra die skuldeiser se bankbesonderhede en betaal net daar die groot bedrag oor.

So maak hy met elke skuldeiser.

En op ’n manier is dit presies wat Jesus kom doen het. Hy het in ons plek die skuld kom betaal. Die skuld wat ek en jy met al ons verkeerde dade bymekaargemaak het, het Jesus betaal.

Dankie tog!

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Hoe dik is jou skuld?
Leef jy in skuld of verlossing?
Hoe verander dit die manier hoe jy dink oor die lewe?

Gebed
Jesus, dit gaan my verstand te bowe dat U gekom het en al my skuld net weggeneem het. Help my om U vergifnis te aanvaar en die vryheid van U verlossing te verstaan en te geniet! Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek