God se Woord in vandag se woorde

Jy het stink ryk geërf


Ons moet onthou dat die mense wie Paulus hier in die visier het, heeltemal anders as ons is. Hulle is jong Christene en kan nie altyd met die eerste aanhoor alles verstaan en glo nie.

Dit is vir ons ook nodig om kort-kort die bekende boodskap weer en weer te hoor, want deur die geraas van die wêreld en die eie ek raak die bekende weer onbekend. Daarom weer die eenvoudige boodskap: God het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat ek en jy alles van God kan erf.

Ek kry elke dag omtrent 3 e-posse waarin ek ingelig word dat ek 5, met ’n hoop nulle, pond geërf het by ’n oom wat ek nooit geken het nie. Op dié e-posse se hakke is die een waar ek miljoene gewen het in een of ander Lotto. Tog weet ek dat ek nêrens ’n kaartjie gekoop het nie en ons weet mos: As djy wil wen, dan moet djy enter!

Maar ons weet mos nou al teen die tyd dat dinge nie so onverdiend na ’n mens se kant toe kom nie. Maar God se liefde werk anders. Uit liefde en net uit liefde het Hy na ons toe gekom en ’n moewiese erfporsie vir ons gereed gemaak. Sommer so sonder dat ons eers ge-enter het. En dit is verseker nie ’n scam nie!

Die grootste genadegawe wat ’n mens kan kry is om as ’n erfgenaam benoem te word sonder dat jy dit verdien. Nie omdat jy so ’n mooi en netjiese mannetjie of oulike dametjie is nie, maar omdat God sy Seun gegee het. Dit is ’n erfporsie met ’n groot E! Tog bly dit nie net daar nie. God gaan nog verder en deel nog porsies uit: 6Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde

God gee ’n stuk van Homself. Nee! Hy gee Homself as deel van die erfporsie en sê: “Ek sal jou kom help”. As dit mistig is in jou lewe en jy kan nie eers na God roep nie, dan doen ek dit namens jou. ’n Erfporsie wat jy nou kan gebruik. Jy hoef nie langer te wag nie.

’n Tyd terug het ek wéér ’n verskriklike groot erfporsie ontvang: My lewe! Ek ry baie laat van Somerset-Wes terug na ons huis in Stellenbosch. Die pad is twee dubbele bane met ’n groot middelman tussen-in. Net toe ek oor die bult kom, word ek verblind deur ligte. Ek verstaan nie wat aangaan nie. Gelukkig swenk ek na links en ons mis mekaar. Die aankomende motor was in my baan en het glad nie geweet dat sy baan aan die ander kant van die middelman loop nie! Seker dronk of net heeltemal deur die mis. ’n Ongeluk gebeur so vinnig!

Ek wonder hoeveel keer in my lewe het die Gees net oorgevat? Hoe ver moes ek nie al van die pad af gewees het nie? Maar dan is dit die Gees van God wat hier binne my leef wat my na ’n kant toe pluk dat ek net kan bly lewe. Hoeveel keer het ek nie al weggebeur van God en probeer om my eie ding te doen nie! Maar elke keer kom die Heilige Gees en neem liggies die stuur oor om my weer nader aan God te bring. Alles in liefde.

Ai, die Here moet my darem baie liefhê om my nie te laat gaan nie.

Peoples, kom ons leef soos koningskinders wat stink ryk geërf het. En laat ons tog nie alles vir onsself hou nie. Daar is baie mense wat ’n stuk daarvan dringend nodig het!

Teks

Galasiërs 4:1-7

Om oor na te dink

Weet jy van jou erfporsie?

Wat is die invloed van die erfporsie wat God jou reeds gegee het op jou lewe?

Deel jy ’n bietjie daarvan uit na die mense om jou of hou jy alles net vir jouself?

Gebed

Vader, dankie dat ek so onverdiend ’n erfgenaam is van alles wat in die hemel is. Dankie dat ek reeds nou al die erfporsie kan gebruik om ’n seën vir ander te wees. Dankie dat U Heilige Gees reeds nou al deel van my lewe is. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek