Jy ken die Herder
Die skrywer van Hebreërs kom maak die venster wawyd oop sodat ons presies kan sien hoe ons Jesus lyk. Hierdie eerste hoofstuk is merkwaardig en ons leer 12 kenmerke van Jesus: Seun van God, Erfgenaam van alle dinge, Skepper van die wêreld, Lig vir die wêreld, die Beeld van God, Instandhouer van die Heelal, Hoëpriester van perfeksie, Superior bo die engele, Verhewe Koning, Here van geregtigheid, die Ewige en Uiteindelike Veroweraar.
Ons dien ’n wonderlike Here. Hy is voorwaar die gans andere. Daar is niemand soos Hy nie. Die vraag is of ons Hom regtig ken. Woon Hy in ons?
’n Beroemde akteur is eenkeer uitgenooi as eregas na ‘n dinee by ’n aftree-oord. Na die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die akteur se roemryke loopbaan en ten slotte, is hy gevra om iets voor te dra. Hy het gevra of daar ‘n spesiale versoek uit die gehoor is.
Die mense was maar skaam en ook nie so bekend met sy repertoire nie. Toe staan ‘n ou dominee op. “Sal u nie vir ons Psalm 23 voordra nie?”
Die akteur was effens uit die veld geslaan – want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van Shakespeare – maar net vir ‘n oomblik.
“Met plesier,” sê hy sjarmant. “Ek dink ek ken nog die woorde.”
Toe hy met sy pragtige stem en suiwer intonasie begin voordra, het die
gehoor aan sy lippe gehang. Nog nooit het die klanke van die bekende
psalm so melodieus op hul ore geval nie. Toe hy klaar was, het spontane
applous losgebars.
“Baie dankie, baie dankie.” Die akteur was amper aangedaan deur die
gehoor se waardering vir sy poging.
Spontaan sê hy: “Maar nou wil ek graag ‘n guns vra. Sal die persoon wat die psalm versoek het, dit nie ook vir ons voordra nie?”
“Ek?” vra die bejaarde Godsman verbaas. “Ek weet niks van die voordragkuns nie. En my stem is al taamlik treurig. Maar as u dit as ‘n guns vra, kan ek nie weier nie.”
Die akteur beduie dat hy moet vorentoe kom, maar die ou man glimlag: “Toe maar, ek staan sommer hier by my sitplek.”. Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra.
Aan die einde van die psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en geen oog was droog nie.
“Sien julle die verskil?” vra die akteur, self bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se psalm, maar hy ken die Herder …
Mag ons elke dag meer en meer van Jesus ontdek. Mag ons Hom werklik leer ken. Mag ons Hom in ons harte ontmoet.
Teks
Hebreërs 1:5-14
Om oor na te dink
Ken jy Jesus regtig?
Is Hy in jou hart of in jou kop?
Sien ander dit?
Gebed
Jesus, hoe kan ek onaangeraak staan as ek werklik besef wie U is en wat U vir my doen? Ek wil U net meer en meer liefhê. Kom woon in my hart. Amen.