God se Woord in vandag se woorde

Jy’s deur God gekies


Toe Shrek iemand nodig gehad het om te help, was dit die einste donkie wat soos ’n metaalveer op en af spring terwyl hy skree: “Pick me! Pick me!” Donkie so opgewonde om saam te gaan, terwyl Shrek sy kop skud en sê: “OK, Donkie, kom maar saam …”

Dis heel andersom as dit kom by God en ons mense. God is die een wat opgewonde is om ons te kies om Sy kinders te wees en ons is weer die astrantes wat ons kop wegdraai en eintlik ons eie rigting wil instap.

Dis baie keer in die wegbeur waar ons voet glip en ons in die modder val. Ons doen dinge wat nie by ons pas nie. Ons doen dinge wat ons weet ons moenie doen nie, maar tog doen ons dit.

Dan voel ons sleg. As ons uiteindelik uit die modder opstaan, het ons selfbeeld erens in die modder verlore geraak. Dan voel ons nie goed nie en ek dink dis sulke tye wanneer ons sukkel om te sê: “Pick me! Pick me!”

Sonde trek ’n sluier tussen ons en God op. Dit laat ons wegkruip. Dit laat ons voel ons maak dit nie. Ons weet wat ons moet doen, maar ons doen dit nie. Ons weet wat ons nie moet doen nie en dan gaan staan en doen ons dit!

Gelukkig is dit presies hier waar Jesus se wonderdaad se werking in ons lewe ontplof. Jesus se kruisdood en die opstanding uit die dood, het betaal vir ons skuld. Die straf wat ons moet dra, is deur Jesus betaal.

God sien ons nie soos ons onsself sien nie. Jy sien, Jesus het ons sondes uit die prentjie kom haal. Daarom dat God ons sien met soveel waarde. Hy sien ons as broers en suster van Jesus. Dis waar ons waarde vandaan kom.

Ons is deel van ’n spesiale groep mense: 9Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, (1983- vertaling.) Of soos die Boodskap vertaling sê: God het julle in die besonder vir Hom gekies. Sjoe, kan jy dit glo?

Ek en jy is nie sommer hierjy nie. Ons is nie gemaak en laat staan nie. Daar was nog al die pad ’n lang plan met ons lewe. God het ons elkeen gekies. Ons is deel van Sy span. Ons is deel van Sy familie. Ons is deel van Sy spesiale volk.

God sien ons voorwaar anders. Dankie vir Jesus se aandeel hierin. Dalk moet ons ons ook so sien. Ons moet ons sien deur die oë van Jesus. Dan sal ons sien hoeveel waarde het ons eintlik.

Waar ons wou wegkruip vir God en Hom nie in die oë wou kyk nie, kan ons ook nou soos Donkie doen en op af spring en skree: “Pick me! Pick me!” As daar in jou omgewing hulp nodig is, is jy voorwaar die beste kandidaat, al voel dit nie altyd so nie.

Gaan leef daarom nou ’n lewe as iemand wat deel is van God span, nie omdat jy dit verdien het nie, maar enkel alleen uit genade, omdat Jesus in die prentjie gekom het en dit alles moontlik gemaak het aan die kruis.

Teks
1 Petrus 2:9-12

Om oor na te dink
Hoe sien jy jouself?
Sien jy jouself soos God jou sien?
Speel jy in God se span?

Gebed
Vader, dankie dat ek soveel waarde het, net omdat Jesus vir my gesterf het aan die kruis. Help my om myself te sien soos U my sien. Help my om voluit te speel in U span. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek