Jy’s ’n engel
’n Christen Joodse professor vertel dat hy as weeskind in ’n kibboets gebly het. Daar kom toe ’n sendeling uit Amerika en hy was gefassineer deur die manier waarop die sendeling die lewe geleef het. Hy was vriendelik, het waarlik omgegee en was net op ander ingestel. Hy het geleef wat hy geglo het.
Die professor vertel dat Here ’n paar jaar later weer ’n engel na hom toe gestuur het. Die keer was dit ’n sendeling uit Korea. Sy het presies dieselfde gedoen as die Amerikaanse sendeling en net Jesus gelewe.
Die keer kon die professor nie anders as om die brug oor te steek van ’n ongelowige na ’n gelowige nie. Dit deur twee mense wat hulle geloof uitgeleef het en nie eintlik daaroor gepraat het nie. Die resultaat is ’n vooraanstaande professor wat in die akademiese wêreld in Israel ’n groot grondgebied het.
Die twee sendelinge het elkeen hul opdrag gaan uitleef om Jesus se verlossing vir ander in ’n ander land te gaan wys. Hulle het saad gaan saai, nie deur hulle monde nie, maar net op die wyse waarop hulle in die vreemde land geleef het en kyk net hoe kragtig gebruik God se Gees dit nie!
So het God baie planne vir baie ongeredde mense en Hy wil gewone mense soos ons gebruik om die planne te laat uitwerk. Ek vermoed dat as die twee sendelinge geweet het dat God hulle roep om engele te wees, sodat ’n seun uit ’n kibboets tot bekering sal kom en op die ou end ’n wêreldbekende Christenprofessor gaan word, hulle heel waarskynlik nie hul hand sou opgesteek het nie.
Ons elkeen het die opdrag om ’n engel in ander se lewens te wees en dit begin by liefde en gasvryheid: 1Julle moet in liefde lojaal bly teenoor mekaar soos broers dit doen. 2Wees gasvry, want dit het al gebeur dat mense hemelse wesens vriendelik ontvang het sonder om eens agter te kom wat hulle regtig was.
Dis darem glad nie ’n moeilike een nie. Eintlik wil ek dit opsom met een sinnetjie: “Wees net nice!” En is dit nou so moeilik? Maak dit vir almal lekker om in jou bubble te klim. Gee om vir ander. Wees lief vir ander. Wees altyd gasvry, want dis wat engele doen.
Dit maak kamp vir my so lekker. As jy by ’n nuwe kampterrein aankom, staan die mense gou nader om hand te kom skud en hulleself voor te stel. Ek self is nog besig om op te slaan, toe ek sien hoe kampeerders wat heelwat ouer as ek is, sukkel om hul karavaan se voet in te kry. Ek stap dadelik nader en help. Dis wat ’n mens doen as jy ’n kampeerder is.
Dis nie moeilik nie. Dis lekker en dit gee ’n mens energie. Selfs as die dinge nie loop soos dit jou pas nie, bly die opdrag in plek. Dit gaan dalk ’n bietjie meer amps trek, maar wees nog steeds nice met ander. So is jy ’n engel en kan dit tot die gevolg hê dat ’n wêreldbekende met ’n groot grondgebied die brug oorstap en ’n kind van God word en so ’n groot verskil in ’n klomp ander mense se lewens maak.
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Is dit rerig so moeilik om ’n nice mens te wees?
Waar moet jy anders?
By wie moet jy so wees?
Gebed
Vader, baie dankie vir die opdrag. Dis eintlik nie so moeilik nie en eintlik kan dit so ‘n groot impak op ander maak. Help my om ten alle tye so op te tree dat ander mense by my wil wees. Ek vra dit in Jesus se naam, Amen.