God se Woord in vandag se woorde

Jy’s ryk


Jy is ryk! En nou bedoel ek nie geestelik ryk, omdat jy eendag hemel toe gaan nie. Nee, jy is deur ’n aardse bril gekyk, vrek ryk!

En dadelik sien ek mense se monde oopgaan om te sê hulle is nie ryk nie. Weet jy hoeveel geld skuld ek vir die bank? Ek kom eintlik nie deur aan die einde van die maand nie. Ek moet raap en skraap. Dit bly ’n geswoeg om kop bo water te hou!

Kom ons maak dit eenvoudig. Kan jy ’n brood en ’n liter melk bekostig? Kan jy êrens nou ’n paar rand bymekaarmaak en na ’n winkel toe stap om vir jou ’n brood en melk te koop? Indien jy ja sê, het jy meer as 689 miljoen mense in die wêreld.

Hierdie mense het minder as $1,90 per dag om van te lewe. In hulle oë is jy ryk. Dis nogal snaaks hoe ons mense op kan kyk na die mense wat net in die volgende finansiële kategorie is en dink hulle is ryk en dan nie hulself sien as ryk nie.

Ons sukkel om ondertoe te kyk na die mense onder ons, die mense in die finansiële kategorie net onder ons en deur hulle bril na ons te kyk. Deur hulle bril is ons erg ryk. Ons het dan meer as hulle.

Met rykdom is daar per se niks verkeerd nie. Daar is baie mense met koffers vol geld wat soveel doen vir ander mense. Ons wat afhanklik is van Kruispad-lesers, luisteraars en kykers se finansiële ondersteuning, voel dit aan ons lyf.

Maar wanneer ’n mens jou rykdom, al het jy net ’n bietjie meer as ’n brood en melk se geld, verkeerd gebruik, is jy in die moeilikheid. Dis met die verkeerde gebruikers van geld wie Jakobus hier praat:

1Staan ’n bietjie nader en luister hierna, julle wat dink geld maak julle so belangrik. Vreeslike dinge wat julle baie seer gaan maak, wag vir julle. Dan sal julle net met julle kop in julle hande kan sit en huil. 2Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde. 3Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby. 5Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer. 6Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer.

Moenie opkyk en dink dis met die finansiële groep bo jou wat hier gepraat word nie. Dit is met ons almal. Kom ons leer mooi hier wat ons moet doen en nie moet doen nie. Kom ons behandel almal met respek, al het hulle minder of meer as ons en kom ons deel sommer uit aan ander, al het ons minder as ander.

Teks
Jakobus 5:1-6

Om oor na te dink
Hoe ryk is jy?
Waar druk jou finansies jou in die verkeerde rigting?
Hoe kan jou finansiële posisie ander help?

Gebed
Vader, ek weet ek het meer. Ek weet as ek na ander kyk, dink ek ek het minder. Help my om dit waarmee U my toevertrou het, te gebruik om ander te help. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek