God se Woord in vandag se woorde

Kalmte tussen die storms


Filippense 4:1-9

Die eerste sin in Scott Peck se boek, The Road less Traveled, is: Life is difficult. Dis al. Life is difficult. Dis min, maar tog skryf dit ’n storie. Ons elkeen se storie. Ja, ons elkeen kan hoofstukke en boeke vol skryf met ons eie swaar stories:

Dit is maandeinde en ek het nie geld om my assistant se salaris te betaal nie want my kliënte het of wil my nie betaal nie.

(Dit maak my so die joos in as groot besighede kleiner besighede as hulle bank gebruik en geld rentevry by hulle leen!)

Ek sit in ’n benarde posisie.  My familie is verskeur en dit alles oor my pa se dinge van die verlede. Dit gaan nie goed met enige van ons 5 gesinne nie. 

Dit gaan broekskeur met my finansies en ek moet nog universiteitsgelde betaal wat ek nie het nie.  Ek voel so moedeloos, al weet ek dat God in beheer is en dat ek aan sy beloftes moet vashou.

(Hoekom moet kinders dikwels die gevolge van hulle ouers se probleme dra?)

Ek is ’n enkelma, my dogter het 2013 matriek geskryf en baie mooi geslaag. Nou staan ek voor ’n berg – hoe gaan ons die berg wat voor ons lê oorkom, hoe gaan ek die studiegelde betaal, my motor het bande nodig, my dogter moet gaan vir rylesse en haar lisensie…and the list goes on and on.

Maar ek weet ek dien ’n Lewende God wat ALTYD voorsien en my nooit bo my kragte sal versoek nie. Tog raak ek soms moedeloos en die vrae kruip in.

Ja, die lewe is nie maklik nie. Life happens en partykeer is ons presies in die middel en ons word van alle kante gedruk. Vir sommige raak die druk net te groot en hulle dink dat selfdood die enigste oplossing is.

Ek onthou nog hoe ek met my ou Mini panel van ’n keuse moes maak om nie voor ’n groot vragmotor met stene in te ry toe ek my meisie op universiteit aan die dood afgestaan het nie. Dit het na ’n goeie oplossing gelyk, want dan is al die seer en bekommernisse op een slag weg, maar dan ek ook, nè.

Bekommernisse smokkel met ons koppe en nie lank nie of ons emosies kom sluit ook aan by die partytjie. Dis nou ’n resep vir ’n gemors, want as ons emosies eers sy loop kry, is dit soos ’n wilde perd wat niemand kan aankeer nie.

Soveel te meer moet ons ons probleme en bekommernisse na Jesus toe neem. Soos ek altyd sê, ons moet versterkings inkry, want op ons eie is ons te pap om alles te dra. En hier is die belofte vir jou: 7Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.

Neem jou bekommernisse na Jesus. Praat met Hom daaroor. Luister waarheen Hy jou lei. Wees sensitief vir die stem van die Heilige Gees en pak die storie saam aan. Weet dat God jou sal help. Dit sal jou rustig maak en sorg dat jy kalm die probleem kan takel.

Om oor na te dink

Waar haak dit?

Praat jy met God?

Wat is die moontlike wat jy kan doen?

Gebed

Here, ek het U so nodig. My maag draai, my kop is seer, niks maak meer sin nie. Ja, my emosies gaan op loop. Ek bring elke probleem na U en sit hulle een vir een voor U neer. Help my. Maak my rustig! Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek