Keer die pothole
Ons tree op by ’n skool in Wolmaransstad. Die mense waarsku ons dat die paaie in die dorp nie so goed is nie. Ons wat van die Wes-Kaap af kom, ken nie eintlik potholes nie.
Ons kan nie glo wat ons sien nie. Dis die een pothole op die ander. Die een groter as die ander. Daar is een plek so erg, dat ons maar soos die ander motors maak en sommer op die sypaadjie ry. Dis vinniger.
Dis jammer dat ons land se infrastruktuur so agteruitgaan. As daar maar net dadelik aandag gegee is aan die klein gaatjie in die teer, sou daar nie nou soveel chaos gewees het nie.
Maar omdat daar nie dadelik opgetree is nie, het die gaatjie na die reën vol water gestaan. Die water het die boonste lagie sag gemaak en toe die motor se wiel dit tref, spat die water met ‘n dun lagie uit.
En so herhaal die proses totdat die gat so groot is, dat jy jou kar se wiel kan afskryf as jy nie betyds uitswaai nie.
Op ’n manier is dit ook wat gebeur as ons verkeerde dinge doen. Êrens pop daar ’n klein gedagtetjie op wat nie so lekker vars is nie. Dalk is dit iets wat ons begeer of so. Hoe meer ’n mens daaraan dink, hoe dieper raak die gat, totdat ons oorgaan in dade. Dan is die gat so groot, dat jy jouself later nie kan vind nie.
So maklik word ons aan ons neus gelei. So maklik maak ons iets af as, “Ag, dis eintlik so onskuldig,” maar as ons ons weer kom kry, sit ons met ’n hoop skuldgevoelens en baie mense wat woes seergekry het.
14… Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in.
Al hoe dieper word ons ingekatrol. Sonder dat ons besef, word die onskuldige gaatjie ’n groot gat. So groot dat ons later nie meer uit die gat kan klim nie en die kans groot dat iets van ons daar van die dors en honger kan sterf.
’n Verkeerde daad gebeur nie sommer net nie. Nee, dit het begin by ’n klein gedagtetjie. Niemand sal agterkom as ek die rand of twee vat nie en soos jy gewoond raak aan die inkomste, kom daar elke nou en dan ’n nul by, totdat dit te groot is om nie raakgesien te word nie.
Kom ons maak ’n punt daarvan om verkeerde gedagtes uit ons koppe te kry. Kom ons sit ’n filtreerstelsel in ons gedagtes en filtreer al die gedagtes wat nie so vars is nie, uit. Daardie gedagtes wat ons weet nie binne God se wil is nie.
Laat ons die gaatjie toemaak, voordat dit ’n groot gat word. So sal ons nie mislei kan word om agter verkeerde goeters aan te hol nie.
Teks
Jakobus 1:12-18
Om oor na te dink
Van watter gedagtes moet jy ontslae raak?
Hoe gaan jy dit regkry?
Kan jy dit vervang met ander gedagtes?
Gebed
Ons Vader, ek besef tog so goed die waarheid van die klein, onskuldige, verkeerde gedagtes. Ek weet dit raak sommer gou groot. So groot dat ons sukkel om daaruit te kom. Help my om die verkeerde gedagtes uit my kop te kry en hulle uit te hou. In Jesus se Naam. Amen.