Keer op keer op keer vergewe
Elke besigheid het ’n primêre fokuspunt. Pick ’n Pay verkoop kos, McDonalds verkoop burgers, Edgars se fokus is klere, en as jy aan die bou is, is Builders Warehouse die een stop om alles vir die huis te gaan koop. Al die besighede fokus op een primêre funksie en het ’n klomp verskillende sekondêre funksies om hulle te help om die primêre funksie goed te doen.
Wat dink jy is God se primêre funksie? Wat doen God die beste? As jy na die dade van God kyk, wat staan vir jou uit? Nou nog moeiliker: Skryf in een woord neer om dit waaroor God gaan, waaruit Hy bestaan, dit wat die fokuspunt is van sy bestaan, te beskryf.
Elkeen van ons het seker ’n ander woord om neer te skryf, maar vir my gaan dit oor liefde. God word so gedring, nee gejaag, deur die liefde vir die mens dat Hy nie anders kan as om van sy liefde uit te stort oor mense nie. Ek stel my voor as God ander vriende gehad het en Hy hulle vertel het van sy plan om vir Hom ’n volk te kry teenoor wie Hy sy liefde kan uitstort, hulle vir Hom sou lag. Hulle sou Hom gewaarsku het dat Hy sy hande gaan brand met die ene! Ek wonder of hulle sou gelag het of in stilte opgestaan en geloop het as Hy hulle vertel het van die idee om sy seun Jesus ter wille van ’n klomp sondige mense na die aarde te stuur, en dat daar ’n kans was dat hulle Hom aan ’n kruis sou hamer.
God se middelpunt, dit waaroor alles in sy lewe gaan, dit waaruit Hy gemaak is, die rede vir sy bestaan, sy primêre fokuspunt, is liefde. God kan nie anders as om vir my en jou toe te gooi met liefde nie. Hy móét dit net doen. God het soveel liefde dat Hy dit moet aangee na ons. God se liefde bly egter nie net in die emosie vorm nie. Sy liefde word sigbaar. Jy kan God se liefde aan jou lyf voel deur dit wat Hy vir jou doen. Een van die eerste dade wat ons aan ons lyf voel, is sy vergifnis.
Uit my eie sou ek dit nie kon regkry om iemand wat keer op keer dieselfde fout maak, te vergewe nie. Tog doen God dit keer op keer op keer. Wanneer ek ’n verkeerde woord uiter, wanneer ek iets verkeerds doen of dit wat ek moet doen nie doen nie, vergewe God my keer op keer op keer. Want God se primêre funksie werk in oortyd! Sy liefde kom weer en weer en weer. As daar liefde is, kry dit gestalte in dade soos vergifnis.
Omdat ons God se kinders is, is dit noodwendig ook een van ons eienskappe: Wees lief vir ander. Dit kom onder andere tot uiting deur ander mense te vergewe. Maar sjoe, is dit nie juis altyd die eerste hekkie waaroor ons struikel nie? Hoekom is dit so moeilik om ander mense te vergewe? Hoekom kan ek nie maar net die besluit neem om al die ander een se ou koeie te begrawe en in die sloot te los nie? Doen ek dit omdat ek nie ander gun om ook foute te maak nie? Doen ek dit omdat ek dan beter voel as die ander? Of doen ek dit om die ander terug te kry vir die pyn wat die persoon veroorsaak het?
Ek verstaan nie altyd die eie ek nie. Een ding wat ek wel verstaan, dis so effe van ’n logiese afleiding, is dat as ek nie vergewe nie, verskyn God se liefde nie in my nie. As ek die ander een voortdurend terugneem na sy fout, is God se primêre doel in my dood. Wanneer ek nie vergewe nie, brand God se lig nie en bou ek eerder aan die donker en speel ek in die opponente se span. 11As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet.
Hierdie is een van Satan se troefkaarte. Hy weet dat die mens nie te goed is in die ding nie. Maar God bly nog groter, al maak ons droog, keer op keer op keer, en al kan ons nie mense vergewe nie, vergewe Hy ons weer en weer en weer, omdat sy primêre fokuspunt liefde is, wat raakgesien kan word deurdat vergifnis gebeur.
Vir wie moet jy vergewe?
Om oor na te dink
Is daar iemand vir wie jy nog moet vergewe?
Is jy gereed om God se antwoord te gehoorsaam as Hy jou deur sy Gees lei?
Glo jy dat God jou sal help om die regte keuse te maak?
Gebed
Vader, nou het ek die vergifnis goeters baie gehoor. Ek weet U praat hard met my. Help my om die eie ek eers op die kant te skuif. Help my om, soos U, eerste aan ander te dink. Help my om te vergewe, soos U my elke dag vergewe. Amen