God se Woord in vandag se woorde

Ken jou Bybel, anders is die oorlog verlore


Efesiërs  6:10-20

Paulus gebruik ’n beeld wat die mense van Efese baie goed geken het om aan hulle te verduidelik hoe hulle hulself moet voorberei vir die geestelike oorlog waarin hulle en natuurlik ons ook, elke dag moet veg. Die beeld wat hy gebruik, is die wapenrusting van ’n Griekse soldaat.

·       Sonder ’n ordentlike belt kan die wapenrusting op die grond te lande kom en van geen waarde wees nie. Maak seker dat die waarheid en net die waarheid styf om jou lyf vas is. Selfs ’n klein wit leuentjie kan alles inmekaar laat stort.

·       Ons weet dat beskerming vir jou voete belangrik is. Selfs ’n klein dorinkie kan jou laat struikel. Dis die boodskap van die Evangelie van vrede wat nie net deel moet wees van ons mondering nie, maar ons moet dit ook aan ander gaan uitdra.

·       En om die pyle van die vyand weg te stamp, het ons ’n skild van geloof nodig. Daar is dinge wat ons nie altyd kan sien nie, selfs nie altyd verstaan nie, maar waarin ons moet glo. Die skild help ons om nie vas te val in die onsekerhede nie.

·       En dan moet ons ons kop beskerm met ’n helmet. Dit is die wete, die kop- kennis, dat ons deur Jesus verlos is. Die boodskap moet ons aanvuur en aanmoedig om weer en weer op te staan teen die aanvalle van die bose.

Nou kom ons by seker die belangrikste van die hele uitrusting – die swaard. Hiermee verdedig ons nie soseer nie, maar tree ons vorentoe en neem woes deel aan die geveg. Nou sit ons nie meer net op die rusbank en kyk na ’n oorlog movie nie. Nee, nou neem ons deel aan die stryd.

Ek het al vertel dat ek ’n gunner was op ’n Ratel (’n gepantserde voertuig) in die weermag. Vir elke gunner was sy kanon sy baba. Elke onderdeel het jy geken en jy het presies geweet waar dit moet kom. Die binneste en die buitenste het jy soos die palm van jou hand geken. Jy het geweet hoe dit moes werk. Jy het geweet wat om te doen om dit goed te laat werk. Selfs as daar dalk ’n storing sou kom, het jy presies geweet hoe om dit reg te maak. Hulle kon jou in die middel van die nag wakker maak en so deur die mis kon jy jou kanon binne enkele minute uitmekaarhaal en weer inmekaar sit, want dit was oorlog…

En vir die geestelike oorlog? 17… Die boodskap van God is soos ’n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer.

Vir die geestelike oorlog word jy deur die Heilige Gees ge-issue met ’n swaard van die Woord van God. Ons moet die Bybel van binne en buite ken. Ons moet presies weet hoe om dit te gebruik. Wanneer die aanvalle kom, moet ons met woord en daad self kan terugveg.

Kyk, die oorlog is so waar soos wors. Elke dag gaan die versoekings kom. As jy nie weet hoe om jou swaard te gebruik nie, as jy nie weet waartoe hierdie wapen in staat is nie, gaan jy vir seker ’n geveg of twee verloor. Selfs die duiwel probeer dit as aanvalswapen gebruik. Kyk maar net daar in die woestyn toe die duiwel vir Jesus probeer versoek het. Die ou het ’n teks uit die Ou Testament aangehaal om Jesus te versoek.

En nou het ’n mens nie baie grade of selfs baie woorde nodig om te vertel hoe die wapens gebruik moet word nie. Nee, maak net tyd en gaan lees jou Bybel. Dis al!

Om oor na te dink

Verstaan jy die oorlog?

Verstaan jy dat jy God se Woord nodig het om aan te val?

Hoeveel tyd bring jy deur met God se Woord?
Gebed

Here! Ek roep U aan, want ek maak soveel foute. Die grootste daarvan is dat ek nie genoeg tyd maak om my wapenrusting aan te trek nie. Ek vat te veel kanse en probeer die geveg op my eie wen. Ek besef elke dag dat dit nie moontlik is nie. Herinner my aan die waarde en die doel van die wapenrusting! Dit kan my lewe red. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek