Keuses
Elke dag moet ons elkeen honderde keuses maak. Sommige belangrik, sommige nie so belangrik nie. Die eerste een kom seker wanneer die wekker afgaan. Gaan ek opstaan of gaan ek die sluimer-knoppie druk om nog so ’n bietjie in te lê? Vyf minute later staan ek voor dieselfde keuse.
Of ek nou vyf minute langer lê, gaan seker nie so ’n groot invloed hê op hoe my dag gaan lyk nie. Behalwe as ek tyd “steel” van my stiltetyd met God. Dan kan dit nogal ’n groot invloed hê op die dag wat voorlê.
Jy sien, ons het hulp nodig met die keuses wat ons moet maak en dit is hier in ons stiltetyd waar ons krag en wysheid bymekaarmaak om ons met die dag se keuses te help. Ons het wysheid nodig met die keuses wat ons moet uitvoer oor hoe ons gaan reageer op ’n onverwagte curve ball wat na ons kant toe gegooi word.
Die balle is mos deel van die lewe en maak hul opwagting net soos hulle wil en op ’n tyd wat ’n mens dit die minste verwag.
So gaan haal ek my dogter na die inperking by haar vriend op ’n plaas daar in die Vrystaat en ’n mens kan mos nie op so ’n plaas kuier en nie aanlê op een van die trekbokke wat daar in die koppies skuil nie.
Dis Sondagmiddag en ja, dit was dalk die eerste fout, om op ’n Sondag die gevoel van die geweer te gaan toets. Maar in ieder geval, in die proses wat ons die teiken gereed kry, sien ons oor die veld seker ’n honderd springbokke. Ons bekruip hulle, maar hulle doen hulle naam gestand en trek na die plaas langsaan.
Toe sien ons ribbokke en die bokkoors slaan ons behoorlik. Ons bekruip hulle, maar daar is fout met die sneller en ons draai in die skemer om en stap ’n lang pad terug na die bakkie.
O ja, ons moet darem nog ’n skoot aftrek om aan die geweer gewoond te raak.
Dis so donker dat die teiken met ’n selfoon verlig moet word. Ek sukkel om die teiken deur die visier te sien. Na ’n bietjie gesukkel, kry ek die teiken, maar toe die skoot afgaan, is ek terstond kwaad. Woes kwaad!
Die bloed stroom uit my voorkop. Dit vat my eers ’n tydjie om te besef wat gebeur het. Ek het te naby aan die visier gelê en die geweer nie goed genoeg vasgehou nie en nou sit daar ’n knop tussen my oë.
Hoekom vertel ek die storie? Ek het ’n keuse gehad oor hoe ek in daardie oomblik van baie pyn kon reageer. Ek kon ’n kras woord, of ’n paar van hulle in ’n ry die aandskemer ingeskreeu het, of net niks gesê het nie. Ek is dankbaar dat ek dit reggekry het om stil te bly.
Dis dalk ’n eenvoudige storie, maar ons word elke dag voor keuses gestel tussen reg en verkeerd. Grotes en kleintjies. Belangrikes en onbelangrikes. Die Israeliete het by een van die grotes die verkeerde een gekies: 2Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie.
Kom ons maak seker dat ons die regte een kies en elke keer reg reageer.
Teks
Hebreërs 4:1-6
Om oor na te dink
Hoe lyk jou keuses?
Wat het jy gehoor?
Wat moet jy doen?
Gebed
Vader, dankie vir die voorreg om te mag kies. Dit is egter nie altyd maklik om die regte een te kies nie. Help my, Here, om so te kies dat dit binne U wil is en ander daardeur beveilig word. In Jesus se Naam, amen.