Kinders…
Generasie Z is die kinders wat tussen die middel 1990’s en 2005 gebore is. Dit is die eerste generasie wat met tegnologie grootgeword het. Hierdie generasie is nie ’n maklike generasie nie. Hulle wil hê dat alles na hulle toe aangedra moet word. Sodra daar ’n klein stukkie opdraande by die werk kom, bedank hulle sommer. Dis asof hulle net eenvoudig nie die dryfkrag het om ’n projek deur te voer en af te handel nie. Werkgewers sukkel met die generasie.
Die vraag is hoekom hulle so is, en ongelukkig is die antwoord te na aan die lyf. Dit is die ouers se skuld. Dis dalk ’n baie growwe veralgemening, maar daar steek baie waarhede in. Die ouers het alles vir die kinders gedoen. Hulle het nooit geleer om iets vir hulself te doen nie. Hulle het dit te maklik gehad. Daarom, as daar net ’n bietjie te veel amps (in hulle oë) getrek word, gooi hulle gou hul speelgoed uit die kot.
Die ouers wou so graag dit vir hulle kinders lekker maak, maar in die proses het hulle bedorwe brokkies grootgemaak wat net aan hulself dink en nie ’n saak met die mense om hulle het nie.
Ons kinders is wie ons is. Ons kinders is die voorbeeld wat ons hulle gegee het. Ons kinders is vandag tot ’n groot mate hoe ons hulle aan die lewe bekendgestel het.
Ja, hulle het hulle eie koppe – weet ons dit tog nie so goed nie! Hulle neem hulle eie besluite – soos ons ook maar ’n hoop verkeerdes. Maar dis baie makliker vir hulle om die regte besluite te neem as die basis reg is.
6… Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie.
Dis nie maklik om ons kinders reg op te voed nie. Hoe moet ons nou weet om kinders op te voed wat die heeldag op hulle fone lê as ons nie eens met een stukkie tegnologie grootgeword het nie?
’n Vriend van my se graad 11-seun kom vroeg Vrydagaand en vra of hy en sy vrou koffie wil hê. Hier moes hy al vermoed het iets is nie lekker vars nie.
Sy seun het ’n slaappil in sy koffie gegooi.
Sy seun was nog altyd ’n entrepreneur. Hy het ’n partytjie gereël en die hele dorp genooi. Elkeen moes natuurlik toegangsgeld betaal.
Hy skrik 11 uur die aand wakker met ’n groot gedoef-doef. Hy spring op, sluit die deure en hekke en bel die polisie. Dadelik daarna bel hy al die ouers en maak verskoning en vra dat hulle die kinders moet kom haal.
Vandag is hy ’n ordentlike klong en weet waarheen hy op pad is.
Ja, soms druk ons kinders hard aan die grense en foeter soms daaroor. Maar met ’n hoop genade keer hulle terug na hul wortels. Kom ons maak seker dat die wortels in Christus is. Kom ons probeer ons bes om ons kinders te help om saam met ons ons Vader te dien.
Dis nie maklik nie, maar ek vermoed God sal ons elke keer help.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Waarheen is jy op pad?
Waarheen is jou kinders op pad?
Hoe kan jy Christus se wortels deel maak van hulle lewe?
Gebed
Here, om kinders groot te maak is nie maklik nie. Dit voel soms of daar so baie is wat buite ons beheer is. Help my om sterk te wees en my kinders te leer en dissiplineer soos wat U dit wil hê, tot hulle beswil. Amen.