Klaar geoefen en klaar gesweet
As ek by die gym instap, loer ek na die manne wat so netjies gestort, gekam en gepoeier by die deure uitstap. Die manne lyk en ruik sommer lekker en stap met ’n wip in hulle stap. Dan wens ek, ek is hulle. Ek wens ek is net soos hulle klaar. Klaar geoefen en klaar gesweet binne my nuwe lekker ruik pakkie op pad om die nuwe dag in te hol.
Maar helaas, my hele oefensessie lê soos ’n berg voor my wat ek nog moet uitklouter. Maar dis nie waarin ek vaskyk nie, want as ek in die hoë berg moet vaskyk, draai ek net daar om en gaan koop vir my ’n sonskyn brêkkie by die Spur. Nee, op ’n manier smokkel ek met my kop en kry die prentjie van ek wat oor ’n uur gaan uitstap, klaar geoefen, klaar gesweet en met my eie lekker ruik pakkie aan. En wanneer ek dan op die ou end uitstap, kry ek die arme drommels wat so laat slaap jammer wat dan eers by die gym instap en wie se oefen berg nog voor hulle lê.
Dis amper so in die lewe ook. Daar lê gereeld ’n berg voor ons. ’n Berg van krisisse wat ons moet oor. Eintlik lyk dit na ’n onmoontlike berg. ’n Huwelik wat uitmekaar geruk is, verhoudings wat aan skerwe lê, ’n toekoms by die werk wat net eenvoudig met een brief en vergadering uitgevee is, ’n geliefde wat net dood is. Op ’n manier moet ’n mens daaroor kom. Paulus weet hiervan: 4Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan.
Maar op ’n manier is daar method in the madness. Op ’n manier werk God met ’n lang plan en ons strompel nie alleen deur die lewe nie. Want, 5God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou.
Ja, daar is ’n plan. Daar is ’n prentjie daar ver wat ons in gedagte moet hou en wat ons kan help om deur die swaar en bitter van die lewe te kom. Daar gaan ’n tyd kom wanneer ons klaar geoefen is en gaan instap in die nuwe wêreld, klaar gesweet met ons skoon pakkies aan.
Maar hier is nog goeie nuus. Hier is ’n waarborg: Die Heilige Gees. Hy is die waarborg dat dit nie maar net stories is nie. Dat dit nie net deur een of ander slim teologiese omie uitgedink is en dat daar eendag ’n groot surprise op ons wag waar al die oefen onnodig was nie. Nee, omdat die Heilige Gees hier is, is dit vir ons ’n teken dat daar iets hierna moet wees.
Maar meer nog. Die Heilige Gees is nie nét ’n waarborg dat daar wel ’n lewe na die lewe op aarde is nie. Hy help ons ook. Hy help ons om ons prentjies van die lewe hierna orals om ons op te plak. Hy help ons om deur ons krisisse te kom. Hy help ons om nie moed op te gee nie en vorentoe te beur.
Glo daarin. Neem die Heilige Gees se hand en vorm die prentjie van die lewe wat hierna op ons wag en weet daar kom ’n tyd wanneer ons klaar gaan wees en uit kan sien om die nuwe lewe in te stap. Dalk moet ons dit ook vertel vir die ouens wat so laat lê, want dalk is dit net-nou te laat om te oefen om reg te wees.
Om oor na te dink
Hoe swaar is jou swaar?
Verstaan jy dat God jou help om gereed te wees?
Hoeveel plek laat jy vir die Heilige Gees in jou lewe toe?
Gebed
Vader, ek moet bieg dat die lewe soms vir my net té veel is. Ek weet dat ek nie altyd genoeg ruimte vir die Heilige Gees toelaat om my hand te neem en saam met my te oefen nie. Dankie vir die boodskap en dat ek weer kan uitsien na die lewe saam met U. Amen