Klaar gespeel met jou sonde
Ek probeer vir my dogter verduidelik hoe die Drie-eenheid werk. Na ’n lang gesukkel kom ek en sy agter dat ons woorde opraak om die grootheid van God te beskryf. Ons besef dat ons nie God se grootheid met ons woorde kan vasvat nie. God sal in ieder geval nie meer so groot wees as ons Hom met ons woorde kan beskryf nie. Daarom is dit juis goed om na die dink-gimnastiek net handdoek in te gooi en te sê: God is te groot.
En na die paar verse in 2 Korintiërs kom ek toe tot presies dieselfde gevolgtrekking: God is groot!
Waar het jy nou al ooit gehoor van ’n Almagtige God wat alles in die verhouding insit en alles van sy kant af doen sonder dat die ander party ’n vinger verroer? Inteendeel, die ander party kies juis teen God, hardloop weg en doen net die verkeerde. Al wat ons moet doen, is om hierdie groot hand waarmee God na ons uitreik aan te gryp en JA te sê. Net dit.
Paulus ken die storie en gaan uit sy pad om mense te oortuig om hierdie eenvoudige waarheid aan te gryp. 20… Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand.
God kon die slegte verhouding tussen Hom en ons net nie meer vat nie en daarom maak Hy ’n plan. Van sy kant bring Hy ’n oplossing om die vyandskap ’n nekslag toe te dien. Nie dat Hy enige iets te doen gehad het met die verhouding wat aan flarde was nie. Nee, ons het drooggemaak. Ons is die party wat verkeerd gedoen het in die verhouding. Maar wat kom doen God? Hy laat toe dat Jesus die lam word wat geslag moes word. Al die skuld word op die lam gepak en hy moet die pak vir almal se sonde vat. 21Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou herstel is.
Kan jy dit glo? God verander Jesus in sonde. Die enigste Een wat nie sonde het nie, juis vir Hóm verander God in sonde, belaai God met al die mens se sondes, sodat juis hierdie sondige mense, ek en jy, ’n kans het op die ewige lewe!
Sjoe! Kan ’n mens dit ooit verstaan? Dit is juis hierdie onverstaanbare daad van God wat Hom net nog groter maak in ons oë. God moet ons mense darem verskriklik liefhê. Om sy eie Seun te straf vir die sondes wat ons mense doen. En tog is dit wat Hy doen. Hy kom haal die pakkie van sonde uit ons hande. Ons hoef nou nie meer rond te loop en swaar te sleep aan die sondes wat ons gedoen het nie. Nee, daarvoor het Jesus gesterf.
Dit is vir baie van ons ’n moeilike begrip. Vir baie is dit té eenvoudig en kan ons nie ons pakkie sonde by die kruis los nie. ’n Dame se hart is baie seer. Ek sien hoe die trane loop, want haar bagasie is net te swaar: “Ek het so baie drooggemaak in my lewe dat ek glad nie seker is hoe my pad gaan loop as ek dood is nie. Ek het hoeveel keer vergifnis gevra en hoeveel keer gebid, maar dit voel of die dak vir my lag.”
Waar lê die fout dat ons nie sommer ons pakkie sonde daar kan los nie? Voel ons ons pakkie is te groot? Is daar ’n probleem met ons geloof in die kruis? Of ervaar ons ook dat ons gebede nie verder as die dak trek nie en die plafon vir ons lê en lag?
Ons moenie toelaat dat Jesus se kruisdood onnodig of oorbodig was nie. Ons moenie toelaat dat ons onnodig met ’n sak sonde ronddwaal nie. Ons moet nog minder toelaat dat sonde die verhouding tussen ons en God versuur. Jesus het reeds vir al ons sondes, maak nie saak hoe groot nie, gesterf. Gaan lê dit voor God. Hy sal dit vergewe. Maar meer nog. Los dit daar, moet dit nie weer gaan haal nie. Jou verhouding met God is weer heel.
Om oor na te dink
Sukkel jy met sonde?
Glo jy in die kruis van Jesus?
Hoe kan jy aan jou verhouding met God werk?
Gebed
Vader, dankie vir die geskenk van U seun. Ek aanvaar hierdie geskenk uit U hand. Ek los my sondes by die kruis en ek sal nie toelaat dat dit my verder keer om voluit vir U te leef nie. Amen