Klim agter in die ry
Soms blaas ek soos ’n stoompot af. Almal moet dan koes. Dan voel ek nie goed oor myself nie. Ek moet mos ’n voorbeeld wees, maar dis asof daar net iets in my trip en dan is dit nag.
Ek vermoed die meeste van ons raak soms boos, sommige in ’n meerdere mate as ander. Baie keer het dit iets te doen met wie ons is en hoe ons aanmekaargesit is, wat die dinge afvuur.
Charlize (skuilnaam) gee so ’n kykie in haar lewe:
Die druk van die lewe veroorsaak ook soms dat jy onbewustelik liefdeloos optree.
Ek baklei elke dag met my gesin oor goed wat rondlê en dat hulle my nie genoeg in die huis help nie.
Dan hoor ek gereeld: “Sy is net weer lus vir baklei!”
Ek wil dinge net georganiseerd hê. Ek raak benoud as alles so deurmekaar raak. Met ‘n gestremde seuntjie is dit ekstra moeilik, want hy hou van mors.
Maar dan raak ek stil en kyk na die onvoorwaardelike liefde wat ek ook van hulle kry. Dan kry ek skaam en ek wonder hoe hulle my gaan onthou as ek die dag nie meer hier is nie.
Ek moet ‘n verandering in my lewe maak. Ek wil nie hê hulle moet verlig wees as ek sterf nie …
Mag ek tog ‘n oase vir my gesin wees.
Baie van ons het ook so iets van Charlize in ons. Ons wil hê die dinge moet werk soos ons wil hê dit moet wees. As iemand dan in ons pad kom staan, is die gort gou gaar en kry die ander een dit teen die oor.
Hoekom stry en baklei ons so gou? Hoekom lyk huwelike soos hulle lyk? Hoekom hang so baie verhoudings aan dun draadjies? Jakobus sit met dieselfde vrae en gee dan sommer die antwoord:
1Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie?
Dis die eie ek. Dis Joan Armatrading se Me, Myself, I. Sodra Charlize se netheid-sindroom versteur word, raak dit warm in die huis en almal moet koes.
As ek nie kry wat ek in my huwelik wil hê nie, moet die ander een deurloop en so sien ons dit in baie verhoudings.
Kinders van God, dis nou ons, moet leer om eers die eie ek agter in die ry te laat staan en die ander se behoeftes voor te trek. Dan sal ander treur as ons nie meer eendag daar is nie …
Teks
Jakobus 4:1-6
Om oor na te dink
Blaas jy ook soms te hard af?
Waar staan die eie ek in die pad?
Hoe moet jy maak om ander se behoeftes eerste te stel?
Gebed
Jesus, U was die minste en het die res van die wêreld eerste gestel. Ek wil ook die eie ek opsy stoot, maar op my eie sukkel ek. In Jesus se Naam. Amen.