Klim van die stoel af
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 3:1-9
Bob Buford skryf in sy boek Half Time, dat ’n mens rondom veertigjarige ouderdom eers regtig besef dat die lewe êrens gaan klaar maak. Wanneer jy tot daardie besef kom, dwing dit jou om te begin dink hoe jy die res van jou lewe wil lewe. Hy gebruik die voorbeeld van ’n sportwedstryd met twee helftes en ’n pouse in die middel. Tydens halftyd in die kleedkamer evalueer jy die eerste helfte en jy beplan hoe jy die tweede helfte gaan speel.
In die eerste helfte van ’n mens se lewe is jy baie op jouself ingestel. Ons probeer ’n goeie werk kry, ons werk om ’n gesin op die been te kry en om genoeg te hê om die lewe ten volle te geniet. Ek en my behoeftes sit vierkantig op die stoel en ander mense is ver uit my visier.
En dit is presies hier waar die jong Christene van Korinte sit. Hulle dink net aan hulle self. Hulle eie behoeftes en voorkeure is vir hulle die belangrikste en hulle sal ten volle daarvoor opstaan. 1… Julle het net aan julleself gedink, 3want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie juis dat julle net aan julleself dink nie? Tree julle nie op soos mense wat eerder hulle eie belange as God se belange kies nie?
Die mense het hulle eie behoeftes selfs voor die wil van God gesit. Hulle eie wil het die rigting van hulle lewe bepaal. Dis nie wat God vir hulle in gedagte gehad het nie. Daarom het hulle baklei. In plaas daarvan dat hulle eerder tyd bestee aan die dinge wat God vir hulle beplan het, het hulle energie gemors om te besluit watter een van hulle leermeesters is nou eintlik die belangrikste. Was dit Paulus of was dit Apollos?
Tog moet ons nie te vinnig vanaf die kantlyn vingers wys na die ouens van Korinte nie. Want as ons so terugkyk oor ons eie lewe, moet ons onsself afvra hoeveel van ons tyd bestee ons aan onsself en dit wat vir ons belangrik is. Hoeveel energie spandeer ons om ander te help? Hoeveel tyd spandeer ons om die wil van God te leer ken?
Ek laat sak my kop in skaamte en sê sag: Ek is skuldig, U edele.
Bob Buford vertel verder dat hy tydens halftyd besluit het dat hy in die tweede helfte van sy lewe minder tyd aan die eie ek gaan bestee en meer klem gaan lê op ander. Hy haal George Bernard Shaw aan: “I am of the opinion that my life belongs to the community, and as long as I live, it is my privilege to do for it whatever I can. I want to be thoroughly used up when I die…”
Die lewe is soveel meer as die eie ek. Wanneer net die eie ek opstaan, word daar onwetend ’n handbriek opgetrek wat jou weerhou om die lewe ten volle te kan leef. So baie word jou ontneem en die oënskynlike geluk wat jy najaag en ervaar is so ver verwyderd van die ware Jakob. Daarom wil ek jou uitdaag om die handbriek in jou lewe los te maak. Jaag die eie ek van die stoel af en sit jou medemens daar. Lewe vir jou medemens, want dan lewe jy presies binne die wil van God. Ware vreugde en geluk sal jou platval.
Om oor na te dink
Hoeveel van my tyd gaan net aan myself wat op die stoel sit?
Hoeveel energie spandeer ek om ander te help?
Hoeveel tyd bestee ek om die wil van God te ken?
Kruisverwysing
Gebed
Ons Vader, ek weet dat die eie ek nog te veel op die stoel sit. Ek gebruik omtrent al die tyd in my lewe aan dit wat vir my belangrik is. Ek weet dit is nie reg nie. Ek weet ek moet my medemens meer in die visier hê. Ek wil ’n lewe lei waar my medemens belangriker is as ek. Herinner my aan U wil vir my lewe. Amen