God se Woord in vandag se woorde

Kom maar net so


Baie mense het ’n probleem met Ragab wat daar in Josua 1 die spioene van die volk gehelp het. En hier word sy weer as voorbeeld gebruik: 25Dink nou maar aan Ragab. Sy was mos daardie straatvrou van Jerigo. Was dit nie juis haar optrede – toe sy die spioene van Israel versorg en in ’n veilige rigting weggestuur het – wat gewys het dat haar verhouding met die Here reg is nie?

Nou of sy werklik ’n straatvrou was en nie net ’n vrou wat in die onthaalbesigheid was met ’n tipe van ’n Airbnb nie, stry die Bybelkenners oor. Maar een ding is seker en dit is dat haar daad ’n reguit lyn trek na haar geloof in God.

Ons het die afgelope tyd keer op keer stilgestaan daarby dat geloof sonder dade nie geloof is nie. Ek dink ons verstaan dit nou heel goed. Daarom wil ek eintlik so-effe wegbeweeg van die sentrale boodskap van dade en geloof na die karakter waarna hier verwys word.

Ragab. Of Ragab nou ’n straatvrou was of net ’n Airbnb bedryf het, haal sy nog steeds die Woord van God, sommer ’n paar keer. Sy word orals gebruik as ’n voorbeeld van hoe ’n kind van God moet leef.

Sy was ’n gewone vrou wat op haar manier probeer het om die pot aan die kook te hou. Sy het haar besigheid daar in die muur van Jerigo bedryf. Dis wat daagliks gedoen het, maar toe die opdrag kom om iets anders te doen, het sy heel waarskynlik eers so vir ’n oomblik by haarself gedink.

“Sjoe, nou word ek vir die eerste keer gekonfronteer om iets te doen wat ek weet teen die regering is. Eintlik word daar nou iets van my verwag wat my lewe in gevaar stel. Moet ek dit doen of eerder vir die ouens vra om langsaan te klop?

Wat is die regte ding om te doen? Ja, ek glo in God, maar verwag Hy nou van my om dinge in die duister te doen? Ai, as ek maar net ’n direkte lyn kon gehad het?

En wie is ek nou eintlik dat God my wil gebruik?

Dalk moet ek nou my geld by die mond sit. Dalk is dit nou juis die tyd om te doen wat ek glo …”

Klink dit nie half bekend nie? Ons wat nie seker is of God ons wil gebruik nie. Ons voel so minderwaardig. Ons dink baie keer dat ons nie opgewasse is om te doen wat ons moet nie en dan wil ons ook eintlik ’n direkte lyn van Bo af hê.

Kom ons leer by Ragab en weet dat dit maak nie saak wat ons doen en waar ons op die trappe van die lewe is nie, ons kwalifiseer om vir God te werk. Dit maak nie saak of ons ’n direkte lyn het nie. Solank ons net ons geloof in werking sit.

God wil jou gebruik en as jy glo, kan jy maar oorgaan in dade. God sal jou net so gebruik.

Teks
Jakobus 2:14-26

Om oor na te dink
Glo jy dat God jou wil gebruik?
Glo jy dat jy dit kan doen?
Wat wil God hê moet jy doen?

Gebed
Vader, dis moeilik vir my om te glo dat U my wil gebruik. Ek is maar net ’n gewone mens, met ’n hoop sonde. Help my om my geloof in U om te sit in werke, al is dit net ’n kleintjie. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek