God se Woord in vandag se woorde

Komaan ouens, fokus!


Met die COVID-19-pandemie het ons so baie dinge geleer. Ek het geleer dat die mens nie so in beheer is soos hy dink nie. Met magtige oorlogskepe wat ’n hele nasie kan uitvee en met sakke en sakke vol geld, gaan kruip die mense in huise weg, want hulle het geen wapen teen hierdie virus, wat nie eens lewendig is nie.

Die klein virussie, wat nie eens met die blote oog raakgesien kan word nie, verwoes meer mense as enige mensgemaakte oorlog. Die virus jaag die hele wêreld op hol en mense leef in vrees. Die finansiële markte val in mekaar. Besighede maak toe. Mense sit sonder werk. Hongersnood breek uit en mense breek af om kos in die hande te kry om te probeer oorleef.

Dit is alles die ware realiteit.

Tog kom daar ook baie positief hier uit. Mense besef stadig maar seker weer waaroor die lewe eintlik gaan. Die lewe gaan nie oor geldmaak nie, maar eerder oor verhoudings. God het ons hier op aarde gesit, eerstens om in ons verhoudings gelukkig te wees. Geld is nie die hooffunksie nie. Dit gaan nie oor hoeveel en watter goeters jy bymekaarmaak nie.

Dit gaan oor jou verhouding met jou eggenoot en jou kinders. Die verhouding met jou kollegas en werknemers is baie meer werd as die geld wat hulle inbring, want as die geld by die deur uit is, is verhoudings al wat oorbly. Dit is juis hierdie verhoudings wat ons elkeen staande hou.

Maar meer nog. Die verhouding met ons Skepper is van kardinale belang. Wanneer alles om ons in stukkies lê, is God en Jesus en die Heilige Gees nog steeds daar vir ons. Waar mense, en selfs die geliefdes om ons, ons in die stof kan laat byt, sal die Driemanskap ons nooit los nie.

Dit is die reine waarheid en iets waaraan ek en jy altyd moet vasklou. Daarom, nadat die skrywer nou eers mooi vir ons vertel het hoe spesiaal ons is, (1My broers en susters, God het julle geroep om net Syne te wees.) kom gee Hy vir ons baie goeie raad: Laat Jesus daarom die fokus van julle lewe wees. Konsentreer op wat Hy wil hê …

Oordink, bedink en rig jou gedagte op Jesus. Laat Hy die middelpunt van jou alles wees. Laat toe dat Hy jou gedagtes in Sy rigting lei. (In plaas van lei, wou ek druk skryf, maar dis nie Jesus se styl nie. Hy druk of forseer jou nie in ’n rigting nie, maar lei ’n mens saggies daarheen – as jy wil en Hom toelaat!)

Dis moeilik, want in tye soos nou wanneer ons woes swaar trek, laat ons ons aan ons neuse rondly (en ek skryf dit doelbewus met ’n lang y, want ons ly!) deur vrees. Ons kyk vas in die swaar en die virus. Dit is ons fokus en hierdie fokus trek net amps en spoeg ons futloos op die grond uit.

Jesus doen nie dit nie. Jesus is die een wat vir ons by God pleit. Hy is die een wat ons so lief het, dat Hy bereid was om vir ons aan die kruis te sterf. Hy sal ons help. Hy wil ons help. Hy kan nie anders as om ons te help nie. Hy help ons dan al van nog voor ons gebore is.

Haal daarom jou oë af van die swaar en fokus op God. Komaan ouens, fokus!

Teks
Hebreërs 3:1-6

Om oor na te dink
Waar fokus jy?
Waar moet jy fokus?
Hoe moet jy anders dink?

Gebed
Jesus, dankie vir alles wat U al vir my gedoen het. Hoe groot is U nie. Ek bely dat ek verkeerd kyk en my fokus op verkeerde plek is. Ek wil so graag op U bly fokus. Help my om my oë op U te rig. Ek het dit so nodig! Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek