Kortste roete na vreugde en vrede
Partykeer wens ek ons kan gedeeltes van die Bybel uithaal of eenvoudig net nie lees nie. Dis die gedeeltes wat ’n mens voor die bors gryp en jou dood in jou spore laat stop. Soos die paar verse:
7Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, 8moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie. Julle voorvaders het presies dit in die woestyn gedoen – hulle het teen My gedraai en gekyk hoe ver hulle met My kan gaan voor Ek my geduld verloor. Julle moet beslis nie hulle voorbeeld volg nie. 9In die woestyn het Ek 40 jaar lank vir hulle so baie gedoen en hulle het dit geweet; nogtans het hulle my geduld tot die uiterste op die proef gestel. 10Uiteindelik het my geduld opgeraak en Ek het gesê: ‘Hulle wil nie regtig by My wees nie, maar is heeltyd op soek na iets anders, hulle stel nie regtig belang om te gaan waar Ek gaan nie.’ 11Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”
Sjoe, dit is baie harde woorde.
Het jy geweet dat die afstand wat hulle moes aflê na die beloofde land ongeveer 2 000 km was? As al die Israeliete in ’n reguit ry agter mekaar, een meter uitmekaar gestaan het, sou dit ses keer langer wees as die afstand wat hulle moes trek.
As hulle sewe kilometer per dag getrek het, sou dit hulle 40 weke geneem het. Toe vat hulle dit hulle 40 jaar! Vir baie ’n leeftyd. Selfs vir Moses, omdat Moses sy humeur verloor het en die klip wat water vir die volk moes gee, gefoeter het.
Die volk het nie hulle kant gebring nie. Hulle het die heeltyd skeefgetrek. Hulle was heeltyd besig met hulle eie stryd en het die groter prentjie verloor. Hulle het baie kere hul eie besluite bo God se wil geplaas. Hulle het baie keer hul eie ding gedoen, sonder om seker te maak dat dit ook God se doel is.
Elke keer het God die volk weer teruggetrek op die regte roete, maar sodra die mens weer by ’n uitdaging kom, raak hulle so besig met die dinge van die wêreld, dat hulle koers verloor op die hemelse pad. En wanneer die mens sy eie kop volg, loop dit meestal op ’n katastrofe uit.
Daar kom ’n punt waar selfs God die streep trek en sê: Genoeg is nou genoeg. En dan moet die ouens wéér ’n ompad vat. Dan hoop God hulle sal seker nou leer om Sy wil te volg. Maar ai, net om die volgende duin draai hulle weer suid. Met die gevolg dat God se ontsteltenis op hulle neerdaal.
Dis so ’n wakkermaak-oproep vir ons elkeen. Ons moenie die heeltyd op soek wees na iets anders nie. Ons moenie die wêreld se drome najaag nie. Hulle is in ieder geval plastiek en bring nie ware vreugde en vrede nie.
Ons moet met alles in ons God se wil najaag en dit doen. Dan is ons op die kortste roete op pad na ware vreugde en vrede!
Teks
Hebreërs 3:7-19
https://www.bible.com/en-GB/bible/50/HEB.3.7-19.DB
Om oor na te dink
Waar foeter jy nog in verkeerde rigting?
Hoe moet jy anders?
Waar moet jy beter keuses maak?
Gebed
Vader, mag U tog nooit kwaad raak vir my nie. Behoede my! Ek weet ek maak soms verkeerde afdraaie. Ek bely dit nou hier voor U. Help my om beter keuses in my lewe te maak. In Jesus se Naam, amen.