Krag vir nog ’n dag
Ek is teen die grond. Niks werk lekker uit nie. Alles pla. Die land pla. Een of ander parlementslid het treine vir ’n hoop geld gekoop ten spyte van die ingenieurs wat hom gewaarsku het dat die treine te hoog is. Nou kan die treine nie onderdeur die brûe ry nie. Dit ontstel my dat mense so mors.
Op Facebook is die kerkmense in mekaar se hare. Van liefde vir jou medemens, van ruimte vir mekaar is daar geen sprake nie. Hulle baklei so woes dat die mense wat buite die kerk staan vir hulle lag. Dit ontstel ’n mens as God se mense so baklei. Dan hoor ek weer van een of ander verskriklike ou Joodse rabbi wat met groot sekerheid aankondig dat die Here voor die einde van die jaar kom. Dan skrik ek, want ek weet nie of ek al my taak hier op aarde klaargemaak het nie.
Dit voel vir my of die hele lewe uitmekaar spat. Dit voel of niks meer in beheer is nie en dit tas my gemoed aan. Dis so ’n swaar drukking wat hier op my bors lê en ek weet nie wat om te doen nie. Ek raak onseker oor alles.
Ek voel sommer swak. Ek wonder of die swart hond voor die deur staan?
Ek draai uit desperaatheid na God toe en kry hierdie hupstoot: 10… As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen as julle naby aan die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak.
Die lig gaan vir my helder op en ek verstaan hoekom my gemoed tussen die vloer en die politoer ingeklim het, want sien, ek het so ’n bietjie op my eie petrol begin loop. Dit was vakansie en met die roetine wat so effe opsy gestoot is, is my daaglikse stap saam met God ook by die deur uit.
Ek het nie meer elke dag genoeg tyd met God deurgebring nie. Met die dat ek nie meer krag by God gekry het nie, het my batterye afgeloop. Ek kon net nie meer staande bly teen die wêreld se dinge nie. My vreugde is gesteel en duisternis het my toegepak.
Mense, hoekom trap ons tog so gereeld in die gat en vergeet vir God? Die netto effek is dat die wêreld daar buite net te veel word, maar ons weet mos waar ons krag vandaan kom. Op ons eie gaan ons dit vir seker nie maak nie!
Ken jy die storie van die muis wat saam met die olifant oor die brug gestap het? Toe die muis opkyk na die olifant, sê hy met ’n groot smile: “Kyk hoe lekker laat ons nou die brug bewe”. En ons kan dieselfde doen, as ons net genoeg tyd saam met God deurbring.
God het ’n hoop krag tot ons beskikking. Wanneer ons tyd met God deurbring en saam met Hom deur die lewe loop, sal ons krag hê. Nee, die wêreld gaan nie sommer verander nie. Die omstandighede gaan nie in die afsienbare toekoms soos rose ruik nie, maar ten minste kry ons krag van God om met ’n lied in die hart daardeur te stap.
Dalk is dit ’n goeie voorstel om nou nog meer tyd saam met God deur te bring. Krag sal jy ontvang!
Om oor na te dink
Hoeveel krag het jy?
Hoeveel hoop het jy?
Hoeveel tyd bring jy saam met God deur?
Gebed
Ons Vader in die hemel, U het soveel krag en ek weet met my hele wese dat U dit vir ons elkeen wil gee. Maar tog draai ons te min by U. Ons sit te min by U stil. Daarom kom bely ek my swakheid en vra dat U my sal help om meer tyd saam met U deur te bring. Amen