Kragtig is die krag in ons
Ek sukkel.
Ek sukkel om elke oomblik van die dag binne die wil van God te leef.
Ek sukkel om kalm te bly as die dinge nie loop soos ek wil hê dit moet nie.
Ek sukkel om my mond toe te hou en nie iets te sê as ’n ou nou weer ’n dom ding hier voor my gedoen het nie.
Ek sukkel dat my bloed nie kook nie.
Ek sukkel om sag te wees en iemand rustig te help as hulle verkeerd gedoen het.
Wanneer ek dan in die gat getrap het en gedoen en gesê het wat kon gebly het, voel ek sleg.
Ek wens ek kan my tong afbyt of net op hok hou. Hoekom gebeur die goeters so? En ek voel sleg en ek wonder of ek die Heilige Gees in my het. In ’n groot mate kan ek met Paulus identifiseer wanneer hy sê dat hy die goeie dinge so graag wil doen, maar as hy hom weer kom kry, doen hy die verkeerde.
Dit bring so bietjie gemoedsrus om te weet dat die groot ouens ook gesukkel het. Ons is in goeie geselskap. Kliphard moet ons dan saam met Paulus bid: 16Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan.
Ah! Ons het versterkings nodig. Op ons eie kan ons nie onsself hanteer nie. Dis nogal erg om dit so te sê, maar dis waar. Ons natuur beur mos die heeltyd na die sonde se kant toe en op ons eie “kan ons nie ons man staan nie.” Nou voel ek nie meer so sleg omdat ek sukkel nie.
Tog gee dit my nie nou die reg om alles net so te los en te laat staan nie. Ons mag nooit gerus raak met die dinge wat ons verkeerd doen nie. Inteendeel! Ons moet ons bes probeer om dit reg te stel. Ons moet die Heilige Gees meer ruimte in ons lewens gee. Ons moet toelaat dat die krag van die Heilige Gees in ons losgelaat word, want dan sal ons nie sukkel om elke oomblik van die dag binne die wil van God te leef nie.
Ons sal nie sukkel om kalm te bly as die dinge nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie.
Ons sal nie sukkel om ons monde toe te hou en nie iets te sê as ’n ou alweer ’n dom ding hier voor ons gedoen het nie.
Ons sal nie sukkel om die temperatuur van ons bloed in die kol te hou nie
Ons sal sag wees.
Dit is wat die kragtige krag van die Heilige Gees in ons doen.
Teks
Om oor na te dink
Waar sukkel jy?
Kan jy dit op jou eie regkry?
Hoe moet jy ruimte toelaat vir die werk van die Heilige Gees?
Gebed
O Heilige Gees, ek het U so nodig. Op my eie maak ek dit nie. Kom woon in my en maak U krag in my los. Saam sal ons nie so sukkel nie. Amen