God se Woord in vandag se woorde

Krummels te min


Iemand stuur eendag vir my hierdie mooi storie aan:

’n Brood val uit ‘n bewegende broodwa en rol ’n entjie verder. ’n Stukkie van die brood breek af en bly in die straat lê. Drie mossies peil af op die stukkie wat afgebreek het. ’n Hewige bakleiery breek los. En dit kwetter en skree dat jy hulle waar kan hoor.

Na ’n vreeslike vlerkgeklap, kry een die oorhand en begin die krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in ’n boom gaan sit. En met die lawaai voortgaan.

Nie een van hulle het die groot brood ’n entjie verder raakgesien nie. Hulle was te besig om oor die krummels te baklei!

Ons maak rusie oor klein dingetjies in die lewe en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Ons baklei oor die krummels van wie maak huis skoon, en wie moet kook, maar die heel brood van die seën om ’n huis te hê, die sien ons nie raak nie.

Ons baklei oor die krummels van wie moet die motor was en wie moet die petrol gaan ingooi, maar die heel brood van seëninge omdat ek ’n motor besit, dit sien ek nie raak nie.

Ons kwetter oor die krummels van die mense by die werk wat dit en dat doen, maar die heel brood van seëninge dat ek werk het, en die gesondheid om dit te kan doen, die sien ons nie raak nie.

Oor die nietighede word ons vir mekaar so kwaad, dat kosbare verhoudinge verbreek word.

Partykeer moet ons so bietjie terugstaan en ons lewe van ’n ander hoek bekyk. Ons moet besef dat die meeste van ons gekwetter en baklei, is oor dinge wat eintlik net oor my eie behoeftes gaan.

Sodra iemand aan die dinge wat vir my belangrik is, wil vat, sodra die dinge wat vir my lekker is in die spervuur kom, wil ek bokshandskoene aantrek en dit met alles in my beskerm. Ek is bereid om die ander een uit te haal en gou op my perdjie te klim.

Tog is dit baie keer die krummels van die lewe waaroor ons baklei. Daar is soveel meer as net wat vir ons lekker en belangrik is. Daar is ’n brood vol genade en seën en beter lewe wat op ons wag.

Daarom dat ons tog soms moet terugstaan om die volle prentjie te kry om te sien waar is krummels en waar is die werklike seën. Dan kan ons raaksien dat dit nie die moeite werd is om te baklei oor dit wat net vir ons lekker is nie, al is dit menslik. Kom ons soek die brood, waar die werklike lekker is, waar daar oorgenoeg is vir almal en ons nie hoef te baklei vir ’n stukkie krummel nie.

1Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is.

Teks
Jakobus 4:1-6

Om oor na te dink
Wat is jou krummels?
Wat moet jy los?
Waar moet jy eerder konsentreer?

Gebed
Vader, ek weet dat ek soms oor dinge baklei wat net vir my lekker is. Ek hoor dat daar eintlik meer is wat U vir my in stoor het. Help my om my kop te swaai. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek