Laaste Kruispad vir 2021
Vanjaar was in sommige gevalle nog erger as verlede jaar en Kruispad247 se virtuele voordeur se drumpel is deurgetrap. Watter ongelooflike voorreg is dit nie vir ons om mense te mag help om die monsters van die lewe vas te vat.
Met die aankoms van die grendel tydperk het Kruispad247 se nuweling die lig gesien. Dit is natuurlik die aanlyn eredienste. Ons is nie te vêr van die 100ste diens nie en ek moet bieg dit was vir ons ’n fees om elkeen te skryf, op te neem en te verwerk. Ja, soms het die wind gewaai of die son het aan die verkeerde kant gesit of soms was die agtergrond geraas net te veel, maar op die ou end het ons Vader ons gehelp om elke keer ’n professionele produksie wat God se Woord in vandag se woorde bring, staan te maak. (Sien gerus die navorsingsresultate by hierdie skakel: https://kruispad.247.org.za/wp-content/uploads/2021/12/KRUISPAD247-TV-AANLYNEREDIENS-NAVORSING-2021-3.pdf)
Uiteraard het die nuweling ’n groot stuk vleis van ons reeds vol program geneem en het ons ernstig begin bid vir iemand om die Roadtrip247 bediening vir die jongmense oor te neem. Ons is dankbaar dat John Matthews hiervoor sy hand opgesteek het en nou al meer as 3 maande saam met sy span die bediening tot hoër hoogtes neem.
Ons gesin het die afgelope jaar heelwat nuwe seisoene beleef.
- Ons oudste, Alet-Mari, is op 31 Julie met Matthys Nieuwoudt getroud en het na Pretoria verhuis.
- Mia het so pas haar BA in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie verwerf. Sy doen haar Gemeenskapsjaar in Ladysmith, KZN in 2022.
- Benno het ’n baie interessante GAP-jaar gehad. Hy het op verskeie plekke, vanaf PE tot Gauteng en Stellenbosch tussen-in, werkservaring opgedoen en besluit om vanaf 2022 ‘n Bsc Informasietegnologie-kursus by Eduvos in Tygervallei te doen.
- Ek en Renata begin die onafhanklikheid van ons kinders tot ons voordeel gebruik (om die gemis minder te maak). Ons noem dit “werksvakansies” 😊 wat eintlik beteken dat ons maar net op ’n ander plek as by die huis werk. Dit bevorder beslis ons kreatiwiteit en dra by om die aanlyn-eredienste se aanbieding interessant te hou.
As ons so terugkyk oor die jaar en die impak wat Kruispad247 kon maak, is ons dankbaar en kan ons net sê al die eer kom aan God toe. Sonder Hom sou ons net leë galmende simbale gewees het.
Baie dankie vir elkeen se woorde van inspirasie en dank. Dankie vir elke donateur wat dit vir ons moontlik gemaak het. Dankie vir elke personeellid en vrywilliger se onbaatsugtige energie. Ons eer God vir julle getrouheid.
Mag julle ’n geseënde feestyd ervaar. (En so gepraat van feestyd. Ons het baie hard gewerk aan ’n spesiale diens op Kersdag. Gaan gerus na ons YouTube kanaal op 25 Desember om 9h00 om hierdie besonderse verhaal te ervaar.)
Shalom
Gerjo Ben en Renata