Laaste Kruispad vir 2023
Die jaar is op sy einde en ja, dit was ’n rowwe een.
As ek so oor die jaar terugkyk, was ons bevoorreg om deur die land en selfs die wêreld te kon reis om preke op te neem. Eers in die Suid-Kaap in die pragtige natuurlike bos. Toe die onvergeetlike toer deur Jesus se geboorteland, Israel, waar ek en Renata in Sy voetspore 14 preke kon opneem.
By Morgenster in Zimbabwe was ek aangedaan toe ek besef my ouers het mekaar daar ontmoet en dat dit juis die begin van my storie was. Ek kon nie anders nie as om daar ‘n preek te skiet oor God wat vir ons elkeen ‘n plan het en dat Hy van die begin af ‘n droom vir ons elkeen het.
Daar was ‘n warrelwind besoek deur Namibië waar ons Vader gehelp het om in die woestyn, op ‘n rooi Kalahariduin en by die soutmyn in Walvisbaai preke te skiet.
Ons kon verder nog saad in die grond kry met geestelike voedsel deur oor die 4.3 miljoen WhatsApp boodskappe en oor die 3.8 miljoen eposse die jaar uit te stuur. Hierdie boodskappe word op derduisende mense se sosiale mure gepos en het gelê en wag dat dit raak gelees word. Hier by Kruispad247 is dit ons gebed dat die Heilige Gees hierdie saad in meervoude sal laat opkom.
Vyf dae per week was ons op 14 radiostasies waar ons onbeskaamd God se Naam kon uitdra aan duisende luisteraars.
Ons gebedspanne het nie net vir duisende gebede van gebruikers ingetree nie, maar op die meeste van die gebedsversoeke is persoonlik op deur die reaksiespan gereageer. Hierdie intersessors het die Vader vir ons geskenk, sonder dat ons daarvoor gevra het.
Ons eer die Here dat Hy ons saam geroep het om te mag saai in Sy Koningkryk.
Dankie dat ons ook al te gereeld en soms onaangekondig daar by jou kon opdaag. Mag die Woord wat ons in vandag se woorde by jou neergelê het, jou deur die woeste wêreld lei.
Dis ons gebed dat jy ook hier aan die einde van die jaar ’n bietjie kan aftrek, toeplak en rus. Mag jy in hierdie tyd wat ons die geboorte van ons Verlosser vier, ook ’n spesiale tyd saam met Hom beleef. Mag jy al die pad veilig wees en mag ons uitgerus, mekaar weer vroeg volgende jaar raakloop, al is dit net via die skerms.
Mag die genade van ons Vader, die liefde van Jesus en die nabyheid van die Heilige Gees, al die pad met jou wees. Amen.
Mooi loop
Gerjo Ben, Renata en die res van die Kruispadspan