God se Woord in vandag se woorde

Laaste Professionele Priester


Party mense is uitgedeel met 10 duime. Hulle kan niks regmaak as daar iets in die huis gebreek het nie. Hulle weet nie eers watter gereedskap om te gebruik nie. Wel, baie van hulle het nie eers ’n gereedskapkissie van ’n dag oud nie.

Ander weer, is so aanmekaargesit dat hulle enige iets kan regmaak. Asof hulle met ’n sakkie gereedskap die wêreld ingekom het. Ons een vriendin is so. Sy maak klere. Sy maak klere reg. Sy maak stukkende goed reg. En as dit lyk of sy nie ’n oplossing het nie, maak sy ’n plan. Haar stelle gereedskap en apparaatjies sal enige man hewig jaloers maak.

Ek is dalk so tussen die twee. Veral nadat ek al oupa se gereedskap geërf het, is dit vir my lekker om gebreekte goeters reg te maak. Maar hier en daar het ek te diep in die probleem afgegrawe, te veel parte uitmekaargehaal om weer self te weet waar hulle moet kom. Dan moes ek druipstert, met al die parte na ’n professionele persoon toe gaan om dit ordentlik reg te maak.

Met die ouderdom het ek geleer waar ek kan grawe en probeer regmaak en waar ek dit eerder moet los vir die professionele ouens wat weet. Maar selfs by hulle moet ’n mens maar ook eers seker maak die ou weet wat hy doen. Dis nou al ’n jaar later. Die loodgieter was nou al vyf keer hier. Selfs die vervaardiger van die geiser was ook al hier, maar dit lek nog steeds.

Dit maak ’n mens boos, nè?

In die Ou Testament was die priesters ook professionele mense. Hulle is deur God aangestel om tussengangers tussen die mens en God te wees. Die skrywer van Hebreërs het al keer op keer vir ons daarop gewys dat deel van hulle professionele werk was om offers te bring, diere wat moes sterf, sodat die mense nie self hoef te betaal vir hulle sonde nie.

Maar selfs hierdie professionele mense, hierdie mense wat gebore is met die gereedskap om priesters te wees, se werk moes oor en oor gedoen word. Dit was net nie in hulle vermoë om eens en vir altyd die probleem op te los nie. Amper soos die loodgieter wat sukkel om die druppende geiser eens en vir altyd uit te sorteer.

Toe word Jesus as die hoëpriester aangestel, die laaste ware professionele een: 6Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dít wat God beloof het soveel beter is.

Hierdie boodskap word nou op baie verskillende maniere, keer op keer vir ons aangedra. Êrens moet ons dit nou deel maak van ons lewe. God het eens en vir altyd klaargespeel met ons sonde-probleem. Nou het dit tyd geword dat ons as verlostes leef. Nou moet ons die handrem losmaak, die pakkie straf by die kruis gaan neersit en die wêreld gaan vertel van die laaste ware professionele Priester wat heeltemal klaargespeel het met ons sondelaste.

Gaan leef dan nou so.

Teks
Hebreërs 8:1-6

Om oor na te dink
Waarvoor staan jou hande reg?
Besef jy wat Jesus se taak hier op aarde vir jou was?
Hoe leef ’n mens dit in die wêreld uit?

Gebed
Here, U is so groot! U weet wat ons goed kan doen en wat nie. Wel, ek weet dat U die beste gedoen het om Jesus na die aarde te stuur vir my pakkie sonde. Dit was die laaste en oorgenoeg. Dankie daarvoor. Help my om ’n lewe as ’n verloste daar buite te gaan leef en ’n verskil in ander mense se lewens te gaan maak. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek